Gemeenskap plant altesaam 75 bome

Die 'Plant 'n Boom' projek is die inisiatief van Adele van der Merwe en Lindsey York, organiseerders van die Boeremark.

MOKOPANE – As deel van die projek het inwoners laas Saterdag kragte saamgespan en altesaam 75 bome in die dorp geplant.

Oud en jonk het vroegoggend reeds hulle moue opgerol en die eerste paar bome by die Mokopane Noodforum geplant vandaar het hulle, hul groenvingers behoorlik ingespan by onder meer Herfsland, die Piet Potgieter Monument Ouetehuis en verskeie parke. Die ‘Plant ‘n Boom’ projek is die inisiatief van Adele van der Merwe en Lindsey York, organiseerders van die Boeremark.

Van der Merwe vertel, dit is vir hulle belangrik om ‘n nalatenskap om op trots te wees agter te laat.

“Deur dié projek te loots het ons die gemeenskap gekry om saam te werk, die jongelinge is die waarde van fauna en flora geleer en ons dorp pronk met’ n spogvoorkoms,” sê Van der Merwe. Hulle beoog om nog soortgelyke projekte op die been te bring en daag die gemeenskap uit om die projekte te ondersteun.

Van der Merwe en York bedank al die flukse inwoners, in besonder Korny Dekker en Yolandé Coetzee, DA Raadslede, vir hulle ondersteuning. Hulle bedank ook hul hoofborg Heinrich Els, eienaar van Avbob Mokopane, vir sy bydrae.

redaksie.bosveld@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version