Skoonheid verruil polvye vir die bos

Polokwane skoonheid en modelbaas, Katryn Barwise het onlangs in die Dinokeng-reservaat buite Pretoria weelde en tegnologie ingeboet terwyl sy aan ‘n realiteitsreeks in die bos deelgeneem het. Agt stadsvroue tussen die ouderdom van 20 en 40 regoor die land is gekies om vir twee weke die gerief en luuksheid van die stad agter te laat …

Polokwane skoonheid en modelbaas, Katryn Barwise het onlangs in die Dinokeng-reservaat buite Pretoria weelde en tegnologie ingeboet terwyl sy aan ‘n realiteitsreeks in die bos deelgeneem het.
Agt stadsvroue tussen die ouderdom van 20 en 40 regoor die land is gekies om vir twee weke die gerief en luuksheid van die stad agter te laat sodat bepaal kan word wie van hulle ‘n ware bosbokkie is.
Die DStv-reeks van 14 episodes handel oor twee wildbewaarders wat die vroue lei om ware bosbokkies te word.
Die wildbewaarders konfiskeer die vroue se selfone en elektroniese toerusting met hul aankoms waarna elke vrou ‘n klein sak kry waarin sy binne vyf minute haar noodsaaklikhede moet pak uit die groot tasse wat saamgeneem is.
“Ek het blitsvinnig die nodigste vir die twee weke se avontuur uit my drie pers tasse gevind,” sê Barwise.
Die deelnemers kry twee uitdagings per dag wat enigiets van die maak van ‘n kampvuur of kettie, die opslaan van ‘n tent tot ‘n fiksheidsuitdaging insluit. Barwise het glo die uitdagings met gemak voltooi, maar wel besef sy is nie ‘n goeie slagter nie.
Die algehele wenner wen ‘n vakansie ter waarde van R40 000 by ‘n weelderige lodge.
“Alhoewel dit ‘n groot uitdaging was, veral die louwarm storte wat ons slegs saans kon gebruik, was dit groot pret. Ek het baie oor natuurbewaring geleer.”
Die reeks bestaan uit 14 episodes en die eerste episode sou reeds gisteraand (Woensdag) op Via, kanaal 147, om 19:30 uitgesaai word en daarna vir die volgende 13 Woensdae.

Storie en foto: Alet-Elize van Jaarsveld
>>alet-elize@observer.co.za

Hooffoto: Katryn Barwise, Miss Humanity International en hoof-uitvoerende beampte van Limpopo Beauty Modeling Academy in haar bosbokkie-uitrusting.

Exit mobile version