Bosveld NewsNews

Ontmoet ons Rooi Tapyt eregaste

Wat het 'n bekende voorkomskonsultant, modeguru en 'n skrywer van verskeie blitsverkopers in gemeen?

MOKOPANE – Hulle gaan almal Bosveld se Rooi Tapyt Vroue-oggend bywoon waarvan die kaartjies reeds soos soetkoek verkoop. Park Hotel is Bosveld se hoofborg op Saterdag, 22 Oktober en al die vermaak is in die hotel se spogtuin.

Kom kyk hoe Francois Louw met sy grimeerkwaste en wenke toor in twee mooimaaksessies. Francois is ‘n gereelde gas op mode- en skoonheidsprogramme van die SABC en die radiostasies, RSG, Jacaranda, PowerFM en SAFM. Hy is ook op die vermaaklikheidsterre se paneel van beoordelaars in die land se nuutste realiteitsprogram, Fashion Guru SA. Sy oop en warm persoonlikheid en kennis oor skoonheid, grimering en stylering word hoog geag en geniet.

Hayley Joy Weinberg kom al die pad van Johannesburg om die vroue te kom wys hoe om volgens hulle figuur aan te trek. Hayley het mode studeer en is vandag die trotse eienaar van haar eie klerereeks en bekende modespreker by geleenthede. Haar passie is om vroue van alle ouderdomme en figuurgrootes te help om die beste na vore te bring met die kies van hulle uitrustings. Sy gee ook ‘n R600 geskenkbewys die oggend weg.

Die skrywer Sophia Kapp van Centurion het laat weet sy kom ook saamkuier. Sophia skryf oor die lewe en die liefde, die opwinding en die seer; die maklik en die swaar; die lig en die donker. Haar heldinne is vroue wie verstaan dat verhoudings nooit maklik of eenvoudig is nie en dat die lewe soms meer uit ‘n vrou tap as wat sy het om te gee. Hulle is ook vroue wie onwrikbaar glo in die liefde, wat weet dat dit in hulle oorleef en gedy, ten spyte van al die swaarkry en dat vervulling lê in wat hulle is en nie in wat hulle kry nie.

Daar is altyd hoop, en daar is altyd lig.

Sophia se eerste roman, Die Erflating, is in 2007 gepubliseer en is met die ATKV-Woordveertjie vir liefdesromans bekroon.

Sy het dieselfde toekenning vir Huis van die Wind en Driehoek ontvang.

Oorlewingsgids vir ‘n Bedonnerde Diva is Sophia se negende boek. Sy is benewens skrywer ook voltyds taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans.

Fatima Bhyat, ‘n bekende jogakenner van Mokopane, het ingestem om ‘n paar praktiese jogaposisies met die vroue te kom deel. Saam met die gassprekers is daar ook ‘n groep jong Afrikadansers wat die vroue by die hotel se ingang langs die rooi tapyt gaan inwag.

Die jong akteur Francois Viljoen is die seremoniemeester en gaan ook sing.

Saam met hom is sy vriend, die akteur Kaz Mc Fadden, bekend vir sy rolle in Strikdas, Knysna en die sepie 7de Laan.

Tooi jouself en kom stap saam op die Rooi Tapyt, want daar is pryse vir die drie ‘best dressed’ vroue. Rooi Tapyt beteken jy kan aantrek volgens jou gunsteling fliek, filmikoon of legende. Gasvroue moet onthou om hulle tafels volgens die tema te versier, want daar is ‘n lekker prys op die spel. Park Hotel sorg vir die tafels, tafeldoeke en eetgerei. Daar is ook ‘n heerlike wegbreeknaweek vir ‘n gesin by Sefapane Lodge en Safaries wat gewen kan word.

Onthou om onder aan jou toegangskaartjie die naam van die liefdadigheidsorganisasie te skryf waarheen jy wil hê die dag se opbrengs geskenk moet word. Bring jou kaartjie saam en kyk wie is die gelukkige organisasie wat met ‘n gelukstrekking vanjaar by Bosveld se vrouedag gaan baat.

Die tema-oggend kos net R120 per persoon wat ligte verversings en drinkgoed insluit. As jy nog nie ‘n kaartjie het nie, kontak ons by (015) 491 2771 of besoek ons kantoor in Van Riebeeckstraat.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button