Ongeluk eis ma (31)

Die gemeenskap van twee dorpe in Limpopo is in rou gedompel nadat 'n 31-jarige ma Maandagoggend in 'n motorongeluk oorlede is.

MOKOPANE – Aneke Myburgh, die jongste kind van Kruger en Annetjie de Beer van Mokopane en ‘n oud-leerder van Hoërskool Hans Strijdom, was Maandag op pad om haar seun Corinus (gr. 5) by die CVO-skool op Vivo te gaan aflaai, toe sy na bewering beheer oor die voertuig verloor het. Die kar het gerol en sy is uit die voertuig geslinger.

Volgens haar ma, Annetjie, het Corinus sy veiligheidsgordel aangehad en het hy sy pa gekontak vir hulp. Die nooddienste het Aneke op die toneel dood verklaar. Corinus is na die hospitaal gehaas en sterk tans tuis aan.

Aneke, wie op Vivo woonagtig was, was verloof aan Hendri Pretorius en saam het hulle toekomsplanne beraam. Annetjie beskryf Aneke as ‘n beeldskone, onselfsugtige borrelende mens en ‘n ongelooflike dogter en ma. “Haar warm glimlag en spontaniteit word reeds gemis,” sê Annetjie hartseer.

Kruger en Annetjie bedank almal vir hulle ondersteuning en gebede gedurende die moeilike tyd.

Aneke was Vrydag vanuit die Gereformeerde Kerk op die hoek van Ruiter- en Voorstraat  te ruste gelê.

 

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version