ICE- inisiatief kan jou lewe red

In 'n poging om vinnig slagoffers se familie te kontak is die ICE-inisiatief bekendgestel

POLOKWANE – In die afgelope paar maande is die lewens van motoriste, passasiers en voetgangers geëis op Polokwane se paaie en baie keer sal mens op sosiale media uitvind van ‘n ongeluk voordat familielede van slagoffers daarvan in kennis gestel is.

In ‘n poging om vinnig slagoffers se familie te kontak is die ICE-inisiatief bekendgestel. ICE, die afkorting vir In-Geval-van-Nood, laat mense toe om hul naasbestaandes se besonderhede op hul selfone te stoor.

Deur ‘n ICE-kontak op jou foon te stoor kan nooddiensperoneel ‘n vriend of familielid vinnig opspoor indien jy bewusteloos of onbevoeg is.

‘n Paar dinge om te oorweeg voordat jy jou ICE-kontakte kies:

• Dink mooi oor wie jy op jou ICE-lys wil hê. Die mense op die lys moet weet van enige mediese toestande en allergieë.

• Die mense wie jy kies moet weet hulle is op jou lys.

• Jy moet inligting soos die persoon se verwantskap aan jou byvoeg.

Die maklikste manier om ICE-kontakte te stoor is deur die afkorting ICE te gebruik, gevolg deur iemand se naam en hul verwantskap aan jou, byvoorbeeld: ICE – Jan – broer.

“Dit hoef nie noodwendig ‘n familielid se nommer te wees nie. “Gemeenskapspolisieringsforum (GPF) nommers kan ook gebruik word,” vertel Trevor van Niekerk van GPF sektor vyf.

“Daar is verskeie ICE-apps wat jy op jou foon kan installeer. Die programme stoor kontakbesonderhede en inligting wat ‘n paramedikus moet weet, soos byvoorbeeld jou bloedgroep en allergieë.

“Om so ‘n app, of ten minste ICE-kontakte op jou foon te hê kan jou lewe red,” vertel David Dennison, Operasionele Bestuurder van die Suid-Afrikaanse Paramediese Dienste in Limpopo.

maretha@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version