Noodforum, DBV in knyp

Eulogia de Wet, maatskaplike werker vra die gemeenskap om die Noodforum se 4x4-familiedag te kom ondersteun

MOKOPANE – Armoede is sterk aan die toeneem op die dorp en liefdadigheidsorganisasies soos die Mokopane Noodforum en die DBV sukkel om hulle deure oop te hou.

Eulogia de Wet, maatskaplike werker, vertel die Noodforum het sy staatsubsidie verloor en daar word alles moontlik gedoen om fondse te bekom deur verskeie projekte wat aangepak word.

Sy vra die gemeenskap om die Noodforum se 4×4-familiedag op 27 Augustus net langs die ovaalbaan buite die dorp te kom ondersteun.

Die verrigtinge begin om 08:00 en daar gaan tot laat deur die slote en oor die bulte gery word. Vierwielmotorfietse is ook welkom.

Eulogia sê die Noodforum help sowat 80 tot 120 gesinne per maand met kospakkies. Daar is ook daagliks behoeftiges wat kom aanklop vir ‘n bord gekookte kos of vir welsyndienste.

Die forum het sy eie groentetuin wat help om vars groente te voorsien aan behoeftiges. Benewens geldelike hulp is enige nie-bederfbare kos en klereskenkings welkom. Eulogia sê dankie aan diegene wat reeds met ‘n oop hand en hart help.

Dit is nie net mense wat swaar trek nie, maar ook die diere. By die Percy Fyfe Dierebeskermingsvereniging gaan dit steeds broekskeur, sê Marcelle Maritz. Sy wys daarop dat die vereniging afhanklik is van hulp uit die gemeenskap om voort te bestaan.

“Dit sal ‘n donker dag wees as die DBV moet sluit, want die vereniging se dienste en hulp strek baie verder as net Mokopane. Ons help ook in Burgersfort, Groblersdal, Tuinplaas, Steilloop, Bela-Bela en Marken.”

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version