Bosveld NewsNews

Om vrou te wees is ‘n fees

Augustus is die maand waarin daar aan die skonergeslag erkenning gegee word en Bosveld het op Vrouedag (Dinsdag) saam met die dinamiese ma en dogter duo, Charmaine en Lara Lourens gekuier.

MOKOPANE – Met die eerste oogopslag is dit reeds duidelik dat dié appel nie ver van die boom geval het nie.

Charmaine is ‘n bekende hier op die dorp en as redaktrise van die Bosveld Review is sy langs die sportvelde, by glansgeleenthede en vele ander aktiwiteite te sien.’n Menigte mense was al van mening dat die pos eintlik vir ‘n man bestem is, maar Charmaine het deur daad hulle vinnig hul woorde laat sluk.

Die ystervrou skroom nie om vir geregtigheid op te staan nie en as ‘n enkelouer het sy baie vermag. Sy som vrouwees as volg op: “Vrouwees beteken ek is geseën met ‘n goeie skoot intellek, ‘n hart wat met deernis kan versorg, ‘n ‘gut feeling’ wat ek vertrou en dan is daar die vemoë om lekker te klets, drukkies uit te deel en almal na aan my te koester. Ek kan ook mooi aantrek, my gesig inkleur en lekkerruik parfuum aansit.”

Jy is ‘n beroepsvrou en ook enkelma. Wat kom eerste?

Ek is eerstens ‘n ma van twee oulike kinders, my seun, Quinton (16) en Lara (23). Om ‘n enkelma te wees het al sy uitdagings en ek moes my kinders vinnig leer om selfstandig te wees. Die lewe is nie altyd regverdig nie, maar jy moet ‘deal’ met die hand wat vir jou gedeel is, want jy is self verantwoordelik vir jou eie geluk en jy moet verantwoordelikheid neem vir die keuses wat jy maak.

Ek het hulle geleer om in hulself en in God te glo. Egskeiding beteken nie jy moet nou jou waardes weggooi nie. Ontdek wat maak jou ‘tick’ en weet die middeweg is die goue weg. In my bedryf leer jy om met soveel verskillende mense van alle kleur, beroepe en ouderdomme om te gaan. Ek dink nie daar is sommer nog ‘n beroep wat jou mensekennis so verbreed nie. Jy sien en leer mense, skole en besighede ken op ander vlakke as die gewone man op straat. My werk is my passie, maar ek besef ook in hierdie beroep kan jy nie almal gelukkig maak nie. Ek is ‘n groot voorstaander van vroueregte en gelykheid.

Is die vroue in Mokopane stylvol?

‘n Stylvolle vrou is gelukkig met wie sy is en kyk die lewe met al sy oppe en affe vierkantig in die oë. Sy omarm die verskillende seisoene in haar lewe en pas haar uiterlike en binneste daarby aan.

Mokopane het beslis van die mooiste meisies hier in ons hoërskole, maar ek sien te veel jong getroude vroue met klein kindertjies wat verwaarloos is. Dis of hulle drome en ideale op ‘n jong ouderdom nie meer bestaan nie. Die grootste fout wat baie vroue maak is om hulle eie identiteit te verloor as hulle die knoop deurhaak.

In hierdie tyd en eeu moet ‘n vrou haarself bly bemagtig en versorg. Dis altyd lekker en bevrydend om vroue op Mokopane te sien wat uitskieters is.

Wat was die beste raad wat jy vir jou dogter gegee het?

Ek het vir my dogter geleer om haarself lief te hê en dit waarvoor sy ‘n passie het uit te leef. Voeg daarby dat sy nooit haar finansiële onafhanklikheid moet prysgee nie.

Wie is jou rolmodel?

My oumas, albei reeds oorlede. Die een ‘n formidabele vrou. Sy was bekend as almal se ouma in Louis Trichardt, ook ‘n knap entrepreneur, sieketrooster, naaldwerkster en ‘n bobaas kokkedoor. Jy kon haar altyd deur ‘n ring trek. Ek sien in my geestesoog steeds die fyn kant sakdoek en botteljie laventel in haar handsakke en ruik die boerekos wat op die stoof prut. Die ander een weer ‘n stil vrou, maar ook sterk.

Die 23-jarige Lara is ‘n ware voorbeeld van ‘beauty and brains’. Sy het onlangs die kortfilm ‘Koue Voete’ geskryf, vervaardig en is ook die regisseur daarvan. Dit is een van slegs 15 kort films wat gekies is vir die gesogte KykNet Silwerskermfees. Sy gaan ook eersdaags haar eerste vollengte film skiet en as regisseur sê sy: “Die geleenthede vir vroue is vandag legio. In my bedryf moet ek harder werk om myself te bewys om nie as net nóg ‘n mooi gesiggie gebrandmerk te word nie, maar ek geniet die uitdaging.”

Vir haar is die lekkerste van vrouwees die vryheid wat daarmee gepaard gaan. “Ek dink hulle moet 9 Augustus Vroue-vryheidsdag hernoem.” Haar rolmodel is haar ma wat haar van jongs af leer om haar sê te sê en om op te staan vir dit waarin sy glo.

Sy het ook groot respek vir Kathryn Bigelow ‘n Amerikaanse, regisseur, vervaardiger en skrywer, wat die eerste vrou was om ‘n Oscar vir beste regisseur vir haar film Hurt Locker te beklink. Haar raad aan haar mede Eva’s is: “Glo in jouself, werk hard en veg vir jou drome.”

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button