Bedreigde spesie slang dood aangetref

Twee bedreigde Suid-Afrikaanse luislange is onlangs dood op die hoek van Totius- en Hoogestraat aangetref

MOKOPANE – “Enige iemand wat ‘n inheemse slang sonder die nodige permit aanhou kan tot R250 000 beboet word of tronkstraf in die gesig staar,”waarsku Pieter Swanepoel, plaaslike slangkenner.

Johan Dicks, ook ‘n slangkenner, se hulp is deur ‘n inwoner ingeroep om dié reuse slange te kom verwyder, maar hulle was reeds dood.

Swanepoel vertel hy het probeer bepaal wat tot die slange se dood gelei het, maar daar was geen sigbare wonde of merke aan hulle nie en dus vermoed hy hulle het in aanhouding gevrek.

Swanepoel maan die gemeenskap om hom te kontak met enige inligting in verband met die slange se dood. “‘n Beloning sal gegee word,” sê hy.

Suid-Afrikaanse luislange is ‘n bedreigde spesie en word deur die wet beskerm en dus is dit onwettig om hulle dood te maak of aan te hou. Swanepoel waarsku verder dat dit onwettig is om enige inheemse slangspesie sonder die nodige permit aan te hou. Hy doen ‘n beroep op die gemeenskap om hom te kontak indien enigiemand kennis dra van inwoners, wat die wet tans oorskry.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

Exit mobile version