Dewald Dippenaar ‘Gaan Bos’ in stad

‘n Wye verskeidenheid liedjies, van voetstamp country tot meesleurende ballades en pretgevulde Afrikaanse treffers, het verseker dat Dewald Dippenaar se optrede Vrydag ‘n aand vol gesinspret was. Dippenaar het by Da-Ga Boys Pub & Grill opgetree en die onthaalarea van hierdie gewilde restaurant was van hoek tot kant gevul met mense wat saamgesing en gedans …

‘n Wye verskeidenheid liedjies, van voetstamp country tot meesleurende ballades en pretgevulde Afrikaanse treffers, het verseker dat Dewald Dippenaar se optrede Vrydag ‘n aand vol gesinspret was.
Dippenaar het by Da-Ga Boys Pub & Grill opgetree en die onthaalarea van hierdie gewilde restaurant was van hoek tot kant gevul met mense wat saamgesing en gedans het. Oud en jonk het kans gekry om van hul gunstelingliedjies te geniet.
Terselfdertyd het Coca-Cola Fortune ‘n ‘Coke and Richelieu’- promosie aangebied en hope T-hemde, mussies, waterbottels, pette en ander geskenke deur die loop van die aand uitgedeel wat tot die pret van die aand bygedra het.
Die veelsydige kunstenaar het nie net van sy eie liedjies gesing nie, maar ook treffers van Bon Jovi, Neil Diamond en Journey nuwe lewe gegee.
Ten spyte van sy B.Com-graad in ekonomie, het die lewe ‘n heel ander pad met Dippenaar gestap. Hy beskryf homself as ‘n gebore musikant wat kort na sy universiteitsloopbaan heeltyds begin sing het.
Twee jaar gelede het hy ook sy voelers na die filmbedryf begin uitsteek en sy eerste filmrol in die Afrikaanse fliek, ‘Spook van Uniondale’ losgeslaan.
Propvol sjarme en die vermoë om sy gehoor te lees, het Dippenaar verseker dat nie een van Da-Ga Boys Pub & Grill se gaste teleurgesteld huis­waarts gekeer het nie. Die partytjie het tot vroegoggend aangehou en die geesdrif waarmee gaste saamgesing het, was aansteeklik.

 

Story en fotos: MARKI FRANKEN
>>marki.observer@gmail.com

 

Hooffoto: Dewald Dippenaar op die verhoog by Da-Ga Boys Pub & Grill Vrydagaand.

 

Dewald Dippenaar sing vir Chanté Swarts tydens sy optrede.
In ‘n spontane gebaar sit Dewald Dippenaar by gaste aan tafel en lewer ‘n serenade aan die vroue.
Zodwa Moila, verkoopsverteenwoordiger van Coca-Cola Fortune, derde van links, kuier saam met van die ‘Coke and Richelieu’-promosie se kliënte, Regardt Barnard, Nelré Schaafsma en George Botha.
Krista Slement, Marlene Nieuwenhuys en Genievivé Rheeder kuier saam.

 

Exit mobile version