Kore, orkeste skitter by Lim Eisteddfod se spogaand

Slagorkeste, sanggroepe en kore van die stad het Maandagaand tydens die Limpopo Eisteddfod se gala-aand by Laerskool Pietersburg-Oos geskitter en die gehoor met ‘n wye verskeidenheid musiekstyle vermaak. “Ons het besluit om die kategorie vir orkeste en kore in ‘n spesiale aand waar belangstellendes die musiek saam met die deelnemers en beoordelaar kon geniet, te …

Slagorkeste, sanggroepe en kore van die stad het Maandagaand tydens die Limpopo Eisteddfod se gala-aand by Laerskool Pietersburg-Oos geskitter en die gehoor met ‘n wye verskeidenheid musiekstyle vermaak.
“Ons het besluit om die kategorie vir orkeste en kore in ‘n spesiale aand waar belangstellendes die musiek saam met die deelnemers en beoordelaar kon geniet, te omskep. Ons stoutste verwagtinge is oortref en die saal was van hoek tot kant volgepak,” sê Gerhard Franken, lid van die Limpopo Eisteddfod-komitee.
Die Limpopo Eisteddfod het Maandagoggend met die musikale kategorieë begin. Die drama-afdeling het Dinsdagmiddag afgeskop en die redenaars sal môre (Vrydag) hul sê kan sê.
Ans Becker, bekende in die stad se musiek-kringe en komi-
teelid het gaste verwelkom en gesê die groot hoeveelheid mense wat op-gedaag het, is ‘n aanduiding van die ondersteuning wat die eisteddfod geniet. Sy het deelnemers se ouers, voogde en afrigters vir hul bydrae en harde werk bedank.
Die aand se program is deur die Kleuterklokkies-slagorkes, wat uit kleuters van regoor die stad bestaan, begin en die kleingoed het menige harte met hul oulike uitvoering en geesdriftige buigings gesteel.
Daarna het Akademie Reformia se slagorkes die gehoor beïndruk, gevolg deur Hoërskool Pietersburg (PHS) se Amika Sanggroep wat met oulike danspassies en harmonieë vorendag gekom het.
Laerskool Pietersburg-Oos se junior- en seniorkoor het onbetwisbaar gewys waarom hul koorleier, Rita Erasmus, as een van die beste koorleiers in die land be-skou word. Die seniorkoor vertrek volgende Vrydag na Stellenbosch om aan die ATKV Applous-finaal deel te neem.
Die hoogtepunt van die aand was sonder twyfel die Ensemble Esprit Mannekoor wat die gehoor met hul besonderse fyn afgewerkte klank en pragtige vertolkings in vervoering gehad het.
In haar repliek het beoordelaar, Maureen Eloff gesê dat sy nie maklik punte gee nie. “As jy by my 80% kry, kan jy dit maar gaan raam.” Tog het die meeste deelnemers goue sertifikate (80% en hoër) ontvang met Ensemble Esprit wat met ‘n welverdiende grootgoud, 90% en hoër, weggestap het. Ka-tegoriewenners sal volgende week in Polokwane Observer aangekondig word.

 

Storie en fotos: MARKI FRANKEN
>>marki.observer@gmail.com

Hooffoto: Nienke Pretorius van die Kleuterklokkies-slagorkes konsentreer om die regte noot op die xilofoon te vind tydens dié orkes se optrede by die Limpopo Eisteddfod se gala-aand. 

Hanno Becker en Danie Grobbe-laar, tenore van Ensemble Esprit, neem die voortou met die koor se weergawe van ‘Loch Lomond’.
Laerskool Pietersburg-Oos se juniorkoor sing oor die drama wat tandpyn veroorsaak.
Laerskool Pietersburg-Oos se seniorkoor voeg gepasde dansbewe-gings by ‘n lied.
Exit mobile version