Steve ondersteuners maak harte oop vir hawelose gesin

‘n Hawelose gesin met twee kinders van onderskeidelik drie en tien jaar oud gaan eersdaags danksy die openhartige gebaar van barmhartige samaritane in hul eie woning kan bly

POLOKWANE – Die gebaar kom nadat die Limpopo-koordineerder vir die Facebookblad vir die Suid-Afrikaanse sanger en akteur, Steve Hofmeyr, ‘n Miljoen Stemme Vir Steve (MSVS), Marina Labuschagne en haar man, Carel, die wiel aan die rol gesit het.

Hulle het uitgereik na inwoners om skenkings te maak om vir die gesin ‘n permanente heenkome te bied.

Carel het aanvanklik in die Dalmada-omgewing op ‘n murasie van ‘n huis afgekom waarna hy besluit het om die murasie vir die hawelose gesin in ‘n woning te omskep.

Die Polokwane-gemeenskap het na die Labuschagne’s se pleidooi heed gegee en saam gespan om die gesin te help. Verskeie individue en besighede het hulle harte en beursies oopgemaak om die Labuschagne’s se uitreikprojek ‘n sukses te maak.

Review het met Marina gesels om meer uit te vind oor hoe die projek sover vorder.

“Die dak is so te sê in plek alhoewel die nokke nog opgesit moet word. Daarby moet die huis geverf word en daar moet nog teëls gelê word, maar die werk vorder fluks danksy die ontbaatsugtigheid van inwoners asook ondersteuners van MSVS,” sê Marina.

Sy verduidelik sy wil nie enige individue of besighede uitsonder voordat die woning voltooi is nie alhoewel sy een person wie van die staanspoor betrokke was met hulp en daad ten opsigte van arbeid, Faan van der Westhuizen, hartlik wil bedank. Vir verdere vordering met die woning vra Marina dat inwoners sal saamspan om ablusiefasiliteite vir die gesin te help oprig.

Die MSVS is daarop gerig om hulp aan behoeftige mense vanuit die Afrikaanse gemeenskap te bied. Hierdie gesin wat eersdaags ‘n heenkome gaan hê is slegs een van vele welwillendheidsprojekte wat MSVS aanpak.

Die MSVS Facebook ondersteuningsblad is van stapel gestuur nadat Hofmeyr in Januarie verlede jaar ‘n onderhoud gesê het dat indien hy ‘n miljoen ondersteuners op Facebook kan werf sal hy dit oorweeg om sy sangloopbaan vir eers te laat vaar en sy eie politieke party sal stig. Daar is al sedertdien meer as 200 000 mense wie Hofmeyr ondersteun op die MSVS Facebookblad.

Mense wie graag Labuschagne en MSVS wil ondersteun, kan haar kontak by 083 226 3375.

 

roelof@nmgroup.co.za

 

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version