NewsSchools

30% sig en vol selfvertroue

Jolene Breet is 'n doodgewone 18-jarige gr. 12-leerder by Curro Heuwelkruin.

POLOKWANE – Sy is met net 30% sig gebore en vertel alhoewel sy gestremd is, sien sy haarself glad nie so nie. “Daar is verskeie dinge met my oë verkeerd. Ek het van geboorte af nystagmus, wat beteken my oë spring rond, veral as ek lank fokus.

Nystagmus is ‘n oogkondisie waar mens se oë onbeheerd rondspring in verskillende rigtings.

Ek kan ook geen kleur sien nie, slegs lig en donker. Ek is bysiende en my oë is sensitief vir lig, daarom dra ek baie my donkerbril, selfs binnenshuis.”

Om te leer en huiswerk te doen kom met hul eie uitdagings. Alles moet vergroot word sodat sy kan sien, selfs haar toetse en eksamenvraestelle, maar niks in haar lewe is vir haar ‘n onoorkomelike struikelblok nie. Sy bly positief en pak alles met selfvertroue en waagmoed aan.

Sy vertel dat sy reeds van gr. 1 af in ‘n “hoofstroomskool” is en dat haar onderwysers haar baie ondersteun. Sy kan nie aan sport soos netbal deelneem nie, maar ry gereeld fiets en perd of draf saam met haar honde.

“As ek fietsry, ry ek saam met iemand en hou hul skaduwee dop. As ek gaan draf, draf Zorro, my Rottweiler saam met my en beskerm my teen dinge wat ek nie kan sien nie. By my ouers in Atok is my hond, Milo, ook altyd aan my sy.”

Jolene het in gr. 11 met Voortrekkers begin en onlangs haar Voortrekker gr. 12 teoretiese vraestel geskryf en geslaag. Sy is ook uitgenooi na die Presidentverkenner afrondingskamp wat in Julie plaasvind. In haar vrye tyd teken sy graag maar kyk selde televisie of flieks. Sy het selfs in die April skoolvakansie gaan boogskiet. Daar is ‘n klokkie aan die teiken vasgemaak wat lui sodra sy reg is om te skiet. Sy sê sy het met elke beurt baie amper ‘n kolskoot geskiet.

maretha@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button