Eugene en sy vierpotige kollega Barrak – ‘n wenspan

Eugene Grobbelaar (40) en sy skaaphond, Barrak, maak die stad veiliger deur seker te maak die regte misdadigers word vasgetrek.

POLOKWANE – Eugene het ‘n passie daarvoor om mense in die stad veilig te hou en hy werk al sedert hy sy hoërskoolloopbaan voltooi het by die polisie, waarvan hy 18 jaar van die 22 jaar deel is van die honde-eenheid.

Hy en Barrak loop ook al ‘n lang pad saam. Hulle het in 2007 saam hulle opleiding begin. Barrak was ‘n baanbreker vir die polisie se honde-eenheid omdat hy die eerste hond in die land was wat opgelei was om baie klein hoeveelhede biologiese materiaal uit te ken en op te spoor. Aanvanklik was hy eers in die Noordwes en het onlangs in Polokwane gevestig.

“Barrak se spesifieke doel is om klein druppeltjies bloed of seminale vloeistof uit te soek,” vertel Eugene. “Barrak se neus is so skerp dat hy omtrent 0,5 ml bloed of seminale vloeistof binne minute kan opspoor en uitwys.”

Barrak word veral gebruik om forensiese speurders te help omdat hy ‘n klein vertrek baie vinnig kan deursoek waar dit die speurders heelwat langer sal neem wat die ondersoek kan vertraag.

Eugene verduidelik dat honde ‘n uiters belangrike rol in die polisiediens speel en dat daar ‘n wye verskeidenheid tipe spesialiteite vir die onderskeie honde in die honde-eenheid is.

Spesialiteitstoerusting om klein druppels bloed of seminale vloeistof op te spoor is vreeslik duur en met Barrak se spesialiteitsopleiding kan ons daardie koste baie sny. Die toerusting is ook nie altyd effektief nie omdat dit slegs in sekere omstandighede gebruik kan word waar opgeleide honde in meeste omstandighede gebruik kan word.

“Ek self het ‘n forensiese agtergrond, so ek en Barrak kan ‘n toneel alleen deursoek en voltooi, dit sluit in die versameling en verpakking van spesifieke vloeistof, foto’s neem asook hoe om met al die verskeie forensiese toestelle te werk,” verduidelik Eugene.

Barrak is tans 11 jaar oud en is een van die meer ervare honde in die honde-eenheid. “Ek neem hom ook graag huistoe omdat my kinders dit baie geniet om tyd saam met hom te spandeer.”

Vir Eugene is een van die mees bevredigende gevalle wanneer hy en Barrak daartoe bydra dat ‘n misdadiger gevang en gevonnis word.

“Ek is self ‘n pa van twee kinders en die dinge wat ek sien gebeur in die wrede wêreld maak my meer beskermend oor my kinders.

“Dit is een van die redes hoekom ek besluit het om saam met Barrak vir die biologiese opleiding te gaan sodat ons die misdadigers kan opspoor en vastrek om die land ‘n veiliger plek te maak.”

calvyn@nmgroup.co.za

Exit mobile version