Local NewsNews

‘n Lewe vir altyd verander – Alex se storie

Op die eerste dag van die tweede kwartaal van Alex van Dyk (21) se finale skooljaar het sy lewe meteens handomkeer verander.

POLOKWANE – Alex is op die middag van 9 April 2013 in ‘n botsing betrokke gewees waar hy van sy motorfiets af gestamp was en onder ‘n dubbel-as vragmotor beland het wat hom 40 m vêr gesleep het.

“Die dokters moes albei my bene afsit na die ongeluk, een bokant die knie en die ander net onderkant die knie. Nadat hulle my bene afgesit het, het ek baie fisioterapiesessies bygewoon om weer te leer loop,” verduidelik Alex.

Hy vertel dat hy nooit kwaad of selfs negatief was na die ongeluk nie of omdat hy albei sy bene verloor het as gevolg van die ongeluk nie. Hy sê wel dat hy dit baie mis om aan sport deel te neem en saam met sy vriende bergfiets te ry. Hy sê alhoewel die ongeluk hom nie as mens vreeslik verander het nie, is hy nie meer so skaam soos toe hy op skool was nie.

“Ek neem nou aan meer aktiwiteite deel as wat ek het voor die ongeluk. Ek is nie skaam oor my prostese nie en deel graag my storie met dié wie my daaroor uitvra.

“Ek doen ook graag motiveringspraatjies en doen my bes om mense ‘n positiewe uitkyk oor die lewe te gee en verduidelik aan hulle dat hulle nie moet toelaat dat ‘n gebrek in hulle pad staan om hulle drome te bereik nie.”

Alex vertel dat hy ‘n wonderlike meisie, Theoleen Weidemann, ontmoet het na die ongeluk en dat sy bankvas agter hom staan en hom met als wat hy aanpak ondersteun.

Hulle is nou besig om fondse in te samel sodat hy ‘n hidrouliese prostese kan kry wat se knie makliker beweeg sodat hy weer aan sy gunsteling buitelewe aktiwiteite soos bergfietsry kan deelneem.

“Die prostese is baie duur. Om mense ‘n voorbeeld te gee, die kouse wat ‘n mens aantrek kos R16 000 en moet elke ses maande vervang word.

“Ek wou graag dieselmotorwerktuigkunde studeer na skool, maar my huidige prostese maak dit nie moontlik nie. Ek is gelukkig reeds werksaam sedert April verlede jaar en geniet elke oomblik daarvan.”

maretha@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button