Is jy reg om jou kruisie te trek?

Die munisipale verkiesing vind plaas op 3 Augustus wat 'n openbare vakansiedag is en daarby is die stembus vanjaar net tot 19:00 oop waar kiesers in die verlede tot 21:00 kans gehad het om hulle kruisies te gaan trek.

MOKOPANE – Die verskeie stemlokale open reeds om 07:00 die oggend, sê Korny Dekker, DA raadslid vir wyk 31. Hy wys daarop dat kiesers in sy wyk hulle kruisies by Laerskool Mokopane, Hoërskool Piet Potgieter of in uitbreiding 14 kan gaan trek.

In wyk 32 waar Yolande Coetzee die DA raadslid is en Marcelle Maritz die Vryheidsfront Plus se kandidaat is, kan stemme uitgebring word by die stoeiklub, die munisipaliteit of by Laerskool Acacia.

Coetzee en Dekker het Maandag by Bosveld kom inloer en gesê hulle is volstoom aan die werk in die gemeenskap en slaggereed vir stemdag. Hulle herinner die gemeenskap daaraan dat die munisipale verkiesing oor dienslewering en werkskepping gaan.

Coetzee verduidelik kiesers gaan drie stembriewe kry. Die eerste is waar vir ‘n spesifieke kandidaat gestem moet word van ‘n party. Dus gee jy toestemming dat daardie persoon namens jou kan praat en optree. Dan is daar ook ‘n stembrief waar vir proposionele verteenwoordiging gestem word. Hoe meer stemme ‘n party hier kry, hoe meer setels kry hulle. Die derde stembrief is vir die stem van distriksraadslede. Corinus duToit is die DA kandidaat in die Waterbergdistrik.

Dekker en Coetzee waarsku dat die beskadiging van verkiesingsplakate ‘n kriminele oortreding is. Nie net hulle nie, maar ook die VF+ se kandidate is teleurgesteld oor die plakate wat gereeld deurloop onder vandale se hande.

Maritz, die VF+ se hooforganiseerder in Limpopo, sê sy en die gekose VF+ kandidate, Valerie Bylieveldt ( wyk 7) en Natashia Venter (wyk16) sit die afgelope tyd skouer aan die wiel met hulle propaganda veldtog wat goeie vrugte afwerp.

Kiesers wat nie op 3 Augustus kan stem nie en spesiale stemme op 1 of 2 Augustus wil uitbring, kan Dekker by 082 878 1502, of Coetzee by 079 273 7986 kontak. Mariz se kontaknommer is 078 617 8682. Aansoeke om ‘n spesiale stem uit te bring sluit 10 Julie.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

Exit mobile version