Foster aanval: skuldige kry strawwe vonnis

Boiki Motaung (25) die verdagte wat Gillian Foster, bestuurder van Bothania Hills-vakansieoord buite Mookgophong op 13 Maart etlike kere met 'n hamer geslaan het, is verlede Vrydag in die Mokopane Streekhof 'n strawwe vonnis opgelê.

MOKOPANE -Magistraat Gerhard Pretorius het Motaung effektief tot 12 jaar tronkstraf gevonnis.

Motaung is skuldig bevind op poging tot moord waarvoor hy agt jaar tronkstraf gekry het. Skuld tot diefstal van motorvoertuig en kontant het ses jaar tot die vonnis gevoeg. Twee van die ses jaar vonnis sal gesamentlik met die agt jaar vonnis uitgedien word, wat meebring dat Motaung effektief 12 jaar sal uitdien sonder die moontlikheid van parool.

Na bewering het ‘n interne geskil tussen Foster en Motaung, wat ‘n werknemer vir die laaste drie jaar by die oord was, tot die noodlottige gevolge gelei waar Motaung haar met ‘n hamer in haar kantoor in ‘n kritieke toestand ingeslaan het. Motaung is op 16 Maart deur AO Barend van Wyk van die polisie speurtak in Mookgophong in samewerking met oudkol. Gawie (Sakkie) Lourens en sy span van HPG in hegtenis geneem.

AO van Wyk het aan Bosveld gesê: “Ek is tevrede met die vonnis.”

Hy het ook die HPG span bedank vir hulle samewerking, wat gelei het tot die inhegtenisneming van Motaung.

Liza Steijn (Eienaar van Bothania Hills-vakansieoord) sê: “Geregtigheid het geskied. Ons is dankbaar dat Gillian goed aansterk en dat die nare hoofstuk nou afgesluit is.”

Steijn het ook haar dank teenoor AO van Wyk se deeglike ondersoek en Nantes Kelder, Trauma Berader van AfriForum, se hulp uitgespreek.

 

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

Exit mobile version