Local NewsNews

Liefde kom natuurlik

Met Vadersdag wat vandag plaasvind, het Review met Ryno Jardin, wie 'n enkelpa is, gesels oor wat pa-wees vir hom beteken.

POLOKWANE – Soos hulle uit die bakkie klim, lag en gesels Raven (10), Xavier (8) en Valken (4) met hul pa, Ryno  en selfs op ‘n afstand is dit duidelik dat daar baie liefde tussen dié vier is.

“Na baie baklei en bid het ek alleen toesig oor Raven en Xavier gekry. Valken bly by sy ma, maar ek sien hom gereeld, nie net elke tweede naweek nie, partymaal elke naweek asook gedurende die week.”

Ryno vertel dat sy liefde vir sy kinders natuurlik kom, maar dat dit soms moeilik is om geduldig te bly. “Ek is oor die algemeen ‘n baie geduldige mens, soms raak die alledaagse druk vir my moeilik en is ek dan ‘n bietjie korter van draad, maar ek haal dit nooit op my kinders uit nie.”

Hy vertel dat alhoewel sy kinders sy sosiale lewe beïnvloed, veral omdat dit ‘n spesiale vrou vat om met ‘n man wie drie kinders het uit te gaan, sal hy hulle liefde en tyd vir niks in die wêreld verruil nie.

“Hulle is my eerste prioriteit. Ek toets maar altyd hoe die vrou met wie ek uitgaan en my kinders bymekaar inskakel. Ons hou almal van die buitelug en die natuur en spandeer so veel tyd as moontlik buite.

“Ons vier nie regtig Vadersdag nie omdat ons elke dag wat ons saam is so spesiaal as moontlik probeer maak. My kinders is ook baie lief daarvoor om vir my kaartjies te maak vir Vadersdag of enige ander spesiale geleentheid.”

Hy vertel dat alhoewel hy baie toegeeflik is, weet sy kinders waar hulle grense is en hoef hy hulle nie gereeld te straf nie.

“Die lekkerste van pa-wees is al die snaakse sêgoed waarmee die kinders vorendag kom en die genot wat hulle uit die lewe put, te sien. Die tye wat ons saam spandeer is vir my kosbaar en ek koester elke oomblik daarvan. Alhoewel ek minder tyd vir my eie doen en late het sal ek dit glad nie verruil nie.”

maretha@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button