Tegnologie speel ‘n geweldige rol tot effektiewe jeugbediening

Gedurende al die Jeugmaand feesvieringe, het Review die geleentheid gehad om met studente pastoor Pierre Calitz te gesels oor hoe om jongmense by die kerk betrokke te kry en hulle na God te lei.

POLOKWANE – Pierre studeer tans deur die Volle Evangelie Kerk van God om pastoor te word.

“Om jongmense in ‘n kerk te kry moet jy hul belangstelling prikkel. Dit doen ‘n mens deur van musiek en tegnologie gebruik te maak,” verduidelik hy.

Hy vertel dat musiek in die kerk baie belangrik is en dat daar vir almal se smake voorsiening gemaak moet word, of dit nou rock is en of dit nou heavy metal is. ‘n Jeugmusiekgroep is ook ‘n goeie begin waar die jeug nie net betrek word om saam te sing nie, maar ook deel vorm van die maak van die musiek.

“Tegnologie speel ‘n geweldige rol. Mense gebruik die Bybeltoepassing (app) op hul fone en tablette om Bybel te lees en ons gebruik ons skootrekenaars om video- en skyfievertonings aan die gemeente te wys.”

Pierre vertel dat dit nie by die Sondag-kerkdiens ophou nie, maar dat hulle Vrydagaande ‘n Jeugdiens hou waar die jongmense saam kan kom en kuier, God loof en prys en nader aan Hom beweeg. Daar is ook kerkkampe waartydens die jongmense die geleentheid kry om op ‘n ander vlak meer te leer van God.

“Ek glo daar is drie aspekte wat ‘n mens na ‘n kerk toe lok. Die gronde moet mooi en versorg wees, die musiek moet gepas wees en dan die preek moet jou laat welkom voel. Mense bly in ‘n kerk waar hulle tuis voel en soos familie behandel word. Hulle moet voel hulle is ‘n kerndeel van die kerk en die gemeente.”

Hy vertel dat hulle kerk reeds die opsie bied waar mense die audiologiese preek kan aflaai en luister en binnekort sal die hele preek beskikbaar wees. Hulle het ook verskei kommunikasiemiddele waardeur gemeentelede, oud en jonk met hulle kan kommunikeer.

“Ons sien ‘n hongerte in die jeug. Hulle wil veilig wees en aan iets behoort. Die druk, op veral tieners, is vreeslik en kerke is dikwels ‘n veilige hawe vir jongmense.”

maretha@nmgroup.co.za

Exit mobile version