Bosveld NewsNews

Sirenes en kangeroes hou ons op ons tone

Redakteur se Ink: 'n Stil Vrydagmiddag is in 'n oogwink daarmee heen toe harde loeiende sirenes en skote wat klap in Hoogestraat almal op hol jaag.

Dit was net na vier verlede Vrydagmiddag toe ek die aankomende konvooi op volle vaart hoor en deur my kantoorvenster sien hoe die ander motors pad gee en van die straatlopers paniekerig die hasepad kies.

Met my kamera en motorsleutels in die hand is ek met die spoed van witlig by die kantoor uit om ondersoek te gaan instel wat vir my blyk ‘n roofjaagtog met die polisie, sekuriteitsbesighede, die brandweer, ambulanse en wegsleepvoertuie is. Ek jaag soos die wind straataf en trap die motor se lepel plat, maar die konvooi is lankal reeds uit sig, vermoedelik dorpuit, snelweg se kant toe maak ek myself wys. Langs my roete staan daar oral mense op die sypaadjies verslae en verbaas wat wonder wat aan die gebeur is.

In die hoofstraat kom ek op ‘n ongelukstoneel af, net om daar te hoor die konvooi wat so vinnig verbygesnel het, is glo gereël vir ‘n man wat vroëer die week die tydelike met die ewige verwissel het.

Joernalis Jolandi Fourie laat weet ‘n halfuur later die loeiende sirenes is nou net naby haar huis verby, weer terug dorp se kant toe en ons is behoorlik gemesmeraai en bel vir ‘n vale om te probeer vasstel wat aangaan.

Intussen gons dit op Facebook soos paniekerige en ontstelde inwoners vrae vra en vertel van hulle groot skrik. Ten lange laaste verneem ons die jagende stoet hier in Potties se spitstyd was ter nagedagtenis aan ‘n ene Baldwin Legodi wat oorlede is en reeds begrawe is. Die insleepdiens waar die man gewerk het, wou met die ererit dankie sê vir sy getroue diens. Die skote wat almal op hol het, was dié van ‘n insleepmotor in die konvooi wat aanhoudend “geback fire” het.

Nooit ‘n vervelige oomblik in Potties nie, veral wanneer Vrydag aanbreek nie. Dit is gewoonlik dan wat die munisipale werkers hulle penne neersit en strate toe gaan om te betoog. Dit is ook op Vrydae wat inwoners hier aandoen om vir ons hulle stories te kom vertel.

Daar was die boemelaarstannie wat luid en al swetsend sonder om te blik of te bloos ontslae geraak het van haar klere terwyl Jolandi verboureerd onder haar tafel probeer induik. En verlede Vrydag kom staan ‘n man dig teen haar en beduie doodernstig dat sy begraafplaas toe moet kom want daar is kangeroes wat verwoesting saai en die dooies se klere steel.

Van Australiese kangeroes wat klere vaslê na die ysige koue wat pens en pootjies hier is en almal na hulle jasse en stewels laat gryp. Die Piet Potgieter ouetehuis vra die gemeenskap om hulle pannekoekbakkompetisie Saterdagoggend te kom ondersteun. Bosveld gaan help beoordeel om te bepaal wie die bobaas pannekoekbakker is. Kom smul gerus saam aan al die soet en sout lekkertes!

Related Articles

Back to top button