Geloof, kuns, familie is Nic se inspirasie

Review het Saterdag by die Dalmada Markdag die geleentheid gehad om met Nic o Venter oor sy kunswerke en sy passie vir kuns te gesels.

POLOKWANE – Die 81-jarige Nico Venter, oftewel Nic soos hy by sy vriende en familie bekendstaan, is ‘n afgetrede haarkapper van Potchefstroom se wêreld wat vir die afgelope vier jaar saam met sy vrou, Nora, Polokwane hul tuiste gemaak het.

Wat Nic so besonders maak is sy onblusbare passie vir kuns. Review het Saterdag by die Dalmada Markdag die geleentheid gehad om met Nic oor sy kunswerke en sy passie vir kuns te gesels.

Nic vertel dat sy passie en talent vir kuns ‘n gawe van die Here is wat aan hom gegee is en dat hy dit eenvoudig net uitleef.

“My broer, Tinus, is die een wat werklik die kunsvuur in my aangewakker het. Ek was al klaar met skool toe ek eendag by dié broer van my gaan kuier het. Hy wys my toe die prys wat hy gewen het by ‘n skou met een van sy kunswerke. Ek dog toe so by myself, as hy dit kan doen, dan kan ek ook. Dis toé dat ek my slag met kuns gedurf het, en ek was aangenaam verras om te sien dat ek ‘n talent daarvoor het,” vertel Nic.

Dit het hom wel ‘n paar jaar geneem voordat hy kuns ernstig begin beoefen het. Nic vertel hy het ‘n deskundige in die kunsgebied raakgeloop toe hy as haarkapper werksaam was wat hom ‘n paar handige wenke oor kuns gegee het.

Nic het aanvanklik met potlode begin skets maar het gou ander mediums soos olieverf, kleurpotlode en oliepastelle beproef en begin gebruik om sy kunswerke te skep. Sy grootste trots, omdat dit sy eerste volwaardige skets is, is ‘n A3-grootte portret van die immergewilde Hollywoodster Marilyn Monroe.

Alhoewel Nic slegs ‘n afdruk van hierdie oorspronklike kunswerk het, vertel hy dat die oorspronklike skets nou in die besit van een van sy agterkleinkinders in Gauteng is.

Tydens Review se besoek aan Nic en Nora se tuiste, wys Nic al sy kunswerke wat hy oor die jare geskep het en nou teen die mure van hul woning spog.

Afgesien van die kunswerke wat ten toon gestel word in die Venters se huis, is daar nog vele ander werke wat veilig weggebêre is.

“As ek met ‘n potloodskets begin, gebruik ek ‘n sagtelood potlood, 4B, om net eers die buitelyne en vorm van die skets in plek te kry. Die mees waardevolste raad wat ek ontvang het oor kuns is dat enige potlood se punt altyd skerp moet wees alvorens jy met ‘n skets begin. Dit doen ek tot vandag toe,” sê Nic.

Hy hou nie daarvan om te skribbel nie, maar hy verkies eerder om sy tyd te neem om ‘n skets te voltooi. Nic beskou homself as a realistiese mens en daarom voel hy dat ‘n kunswerk meer realisties voorkom as hy meer tyd daaraan spandeer.

“Oor Polokwane en die stad se inwoners is ek en my vrou eens, dit was ‘n baie goeie besluit om hierheen te verhuis. Ons dogter, Retha, is woonagtig hier en dit was die oorspronklike rede agter die verhuising, maar ons is nie ‘n dag spyt oor ons besluit nie,” verduidelik Nic.

Nic en Nora vier hierdie jaar hulle 58ste huweliksherdenking. Hy het vir Nora by ‘n geselligheid wat sy broer gehou het ontmoet en hy sê dit was liefde met die eerste oogopslag. Hy sê die sukses van hul huwelik berus op hul geloof en vertroue in die Here.

“My geloof is ten volle in my Skepper, dit is waarom ek gelukkig lewe en gelukkig getroud is, dis hoekom ek geseën is in my weë,” sluit Nic af.

roelof@nmgroup.co.za

Exit mobile version