Oud-beesboer oorlede

Dit was sy lewensmotto om soveel vleis as moontlik vir mense te verskaf teen die goedkoopste prys, sê Dalene Basson wanneer sy met heimweë terugdink aan haar wederhelf wat verlede Saterdag oorlede is.

MOKOPANE – Johan Basson (88), ‘n bekende boorling van Mokopane, is na ‘n lang siekbed oorlede.

Hy is in Mokopane gebore en getoë en talle inwoners onthou die oud-bees- en tabakboer vir sy betrokkenheid by alle fasette van vleisgradering.

Hy was ook ‘n stigterlid van die Potgietersrus Toetsstasie vir Afrikanerbulle.

Dalene sê Johan se gesondheid het die afgelope paar maande agteruit gegaan en hy het stil heengegaan.

“Die pad is nou wawyd oop want Johan sal daarvoor onthou word dat hy deur sy lewe onwrikbaar daarin geglo het om getrou binne die spoedbeperkings op die paaie te bly, ongeag die bestuurders wat in sy motor se nek geblaas het.”

‘n Roudiens word Vrydag om 11:00 vir hom in die N.G. Hulp en Hoop Gemeenskapskerk gehou. Basson laat sy vrou en vier kinders, 11 kleinkinders en 23 agterkleinkinders na.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

Exit mobile version