Local NewsNews

Besoedelde rivier kan lei tot gesondheidsrisiko

Die munisipaliteit vra dat inwoners betekenisvol sal meedoen om ons natuurlike hulpbronne te beskerm - Matshidiso Mothapo, die Munisipale Woordvoerder.

POLOKWANE – Die Sandrivier wat langs Westenburg vloei word erg besoedel deur vullis wat onwettig gestort word langs die rivierbank.

Daar is ‘n munisipale stortingsterrein in Buysstraat waar inwoners hul vullis kan stort en elke Donderdagoggend kom daar ‘n munisipale trok om vullis in die woonbuurt op te tel, maar steeds word daar vullis in die oop grond langs die rivier gestort.

‘n Groep vroue wat ‘n groentetuin op ‘n oop stuk langs die rivier plant gebruik die besoedelde rivierwater om hul groentetuin nat te maak.

“Ons weet dit kan nie gesond wees om hierdie besoedelde water oor ons groente te gooi nie, maar ons het geen ander bron van water om te gebruik nie.

“Daar is ‘n klomp papiere, leë bottels en ander vullis in die water, maar ons skep weg van dit af. As ons nie ons groente natmaak nie gaan dit vrek. Ons is afhanklik van die groente as voedingsbron vir ons gesinne,” vertel een van die vroue.

Daar is ook kinders wat in die rivier swem en ander wat visvang vertel ‘n bekommerd inwoner.

“So vuil soos wat die water is, is daar kinders wat hier swem. Die kinders sê die swembad is te duur en daarom swem hulle verniet in die rivier. Daar is mense wat in die bos bly wat hier by die rivier visvang. Ek dink nie dit is gesond vir hulle om die vis wat hulle vang te eet nie omdat die water so vuil is.”

‘n Ander inwoner voeg by dat die skuld van die rivierbesoedeling nie net op die munisipaliteit rus nie.

“Dis nie net by die munisipaliteit waar die fout lê nie, maar ook die mense wat vullis hier stort. Ja, dit is die munisipaliteit se verantwoordelikheid om te monitor wanneer mense onwettig vullis stort en hulle beboet, maar dit is ons as gemeenskap se verantwoordelikheid om te sorg dat ons ons deel doen om die plek skoon te hou,” het die inwoner verduidelik.

Die gesondheidsrisiko van besoedelde water

Dr. Mabowa Makhomisane, ‘n plaaslike geneesheer, sê dit is baie ongesond vir mense om van die vis te eet wat in die besoedelde water is en om in die water te swem.

“Die vis kan van die elemente wat in die water is bevat en kan ‘n persoon wat dit eet baie siek maak.

“Dit is ook baie ongesond vir mense om in besoedelde water te swem want dit kan verskillende velsiektes veroorsaak asook ander siektes soos Bilharzia,” verduidelik Makhomisane.

Die bewaring en behoud van rivier is die verantwoordelikheid van die hele gemeenskap – muni

Matshidiso Mothapo, die Munisipale Woordvoerder, meen die onwettige stortingsterrein is deur die gemeenskap gevestig en die munisipaliteit dra kennis van die situasie.

“Die saak geniet tans aandag in die rommelbestuurafdeling wat die ontwettige stortings ondersoek en maatreëls in plek sal sit wat die monitering van die area insluit.”

Volgens Mothapo is die bewaring en behoud van water die verantwoordelikheid van die hele gemeenskap.

“Die munisipaliteit vra dat inwoners betekenisvol sal meedoen om ons natuurlike hulpbronne te beskerm.

“Ons sal deurgaans opvoedkundige programme loods om die publiek in te lig rakende waterkwessies en omgewingsbewaring.”

Die munisipaliteit het ook ‘n stortingsterrein wat onderhou word en is verantwoordelik vir vullisverwydering in Westenburg.

Inwoners word gemaan om nie vullis onwettig te stort nie en eerder van die stortingsterrein gebruik te maak.

Diegene wat vullis onwettig stort kan by die volgende nommers aangemeld word: (015) 290 2366/2367 of 083 670 6778.

Vullis wat onwettig op hierdie oop grond langs die Sandrivier gestort word beland in die rivier.
Vullis wat onwettig op hierdie oop grond langs die Sandrivier gestort word beland in die rivier.

cheryllee@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button