BRIEF: NHK Ysterberg gemeente ontken bewerings

Na aanleiding van 'n mediaverklaring van die Nederduitsch Hervormde Kerk gemeente Potgietersrus wat verlede week in Bosveld gepubliseer is, het ons die volgende brief ontvang vir plasing:

“Die Kerkraad én gemeente van die Hervormde Gemeente Ysterberg is teleurgesteld en verstom oor die brief van ds. Hennie Nel (namens sy Kerkraad) wat in die Bosveld van 26 Mei 2016 oor ons gemeente gepubliseer is. Teleurgesteld omdat ons mekaar op die naam ken en ‘n enkele telefoon oproep die probleem sou kon oplos – eerder as om die wêreld daarbuite te oortuig dat kerke hulle met kleinlikhede besig hou.

Ysterberg Hervormde Kerk verkry al sy fondse op hierdie oomblik uit die dankoffers van sy lidmate. Tot nou toe het ons géén fondsinsameling op enige briefhoof van stapel gestuur nie. Ons sal graag bevestiging van ds Nel ontvang wat die bestaan van sodanige dokument staaf. Ons ontvang ook graag stawende bewyse dat die naam “Hervormd”, of die wapen van die ou Zuid-Afrikaanse Republiek in die naam van die NHKA geregistreer is.

Tweedens skep ds. Nel se brief die indruk dat ons gemeente besig is om fondse in te samel vir sy gemeente omdat dié besig is om finansieël onder te gaan? Dit maak doodeenvoudig nie sin nie en word ontken.

Die stelling dat ons lidmate niks meer met die NHKA of Potgietersrus-gemeentes te doen het nie, is eenvoudig nie die waarheid nie. Die vorming van ‘n alternatiewe Hervormde gemeente in Potgietersrus is genoodsaak deur ds Nel se houding teenoor van sy eie behoudende kerkraads- en gemeentelede omdat hulle nie bereid is om te konformeer en dwalinge van sommige leiersfigure binne die NHKA gelate te aanvaar nie – leiers wat die gesag van die Bybel, en die Goddelikheid van Jesus Christus aantas en die bestaan van die Hemel en die Hel ontken – wat verkondig of impliseer dat Jesus nié die Seun van God is nie, nié uit die dood opgestaan het nie, nié opgevaar het na die Hemel nie, en ook nie weer sal terugkom nie. Baie van ons lidmate is gelowiges wat meen dat hulle deur ds. Nel, outoritêr, onkerkordelik en ongeldiglik van hul lidmaatskap gestroop en effektief uit die NHKA Gemeente Potgietersrus weggejaag is.

Geen een het egter lidmaatskap opgesê nie, en is ook nie van plan om dit te doen nie. Dit is bloot ‘n geval dat die lidmate hul van die leierskap van die NHKA distansieër.

Dit is vir ons ‘n bevryding om nie meer by binne-gevegte betrokke te wees nie en streef ons daarna om die suiwer geloof te beskerm. Ons leef hier binne ons gemeente in vrede en ook binne ons finansiële vermoë.

Die hoop bestaan dat ons binnekort ‘n eie predikant in kombinasie met ander onafhanklike Hervormde gemeentes sal kan beroep. Mag dit goed gaan in ds. Nel se gemeente en mag die ware evangelie oral seëvier.

Indien ds. Nel of sy kerkraad enige navrae of bekommernisse het, is hulle steeds welkom om met ons in verbinding te tree.”

Navrae kan ondertussen aan ds. Gawie Wolmarans, ons konsulent, gerig word by 082 8533 053.

Exit mobile version