Tragiese ongeluk eis sonskynkind (5)

Suné Horn (5) se lewe is Sondagaand tragies kortgeknip in 'n ongeluk net na die Mookghopong-afrit op die N1.

POLOKWANE – Die gesin was in twee voertuie op pad terug huistoe vanaf Krugersdorp – Suné en haar boetie, Mason de Bruyn was in ‘n vriendin van hul ouers se motor onderweg Polokwane toe, en haar ouers, Gunther en Madelaine Horn, in ‘n tweede voertuig.

Talle inwoners ken Suné se oupa, Gordon Horn as die Adjunk-direkteur by Limpopo Verkeerspolisie vir verkeerspolisiëring en wetstoepassing.

“Ek het in my lewe al baie motorbotsings bygewoon en ondersoek. Ek kan nie eers sê hoeveel kere ek by voertuie moes staan en bid en wonder wat die families deurgaan nie.

“Sondagaand het die Here dit so beskik dat ek my eie kleindogter se lykie moes gaan groet het.

“Ek het nooit gedink so iets sou met my gebeur nie,” herroep hy die gebeure.

Volgens Horn snr. het die jong Suné op die motor se agterste sitplek gelê en slaap toe die voorval gebeur het.

“Net na die Mookghopong-afrit het die voertuig die pad verlaat en gerol omstreeks 18:00. Suné is deur die agterruit geslinger,” vertel hy.

Haar pa het op haar lyk afgekom, skaars ‘n paar meter weg van die voertuig.

“Haar boetie en die bestuurder van die motor het ligte beserings opgedoen. Nooddienste was spoedig op die toneel,” vertel Horn snr.

“Ons wil as gesin al die nooddienstepersoneel wat ons bygestaan het bedank, ook dié van sover as Polokwane, die polisie, die hoof van die verkeersdepartement, Hanli du Plessis, die provinsiale verkeer en hul hoof, die munisipale verkeershoof van Mookghopong, vriende en familie en onbekende mense.

“Ons het duisende boodskappe ontvang, en eweneens soveel bystand.

“Ek is baie dankbaar dat die patologiese dienste gewag het dat ons van Magaliesburg, waar ons by familie was, af kon ry om ons kleinkind te kom groet en afskeid te kon neem voordat hulle haar lykie weggeneem het.”

Suné se begrafnis vind môre (Vrydag) plaas vanuit die APK Kerk Pietersburg in Diemeerstraat, om 11:00.

Suné Horn. Foto: Verskaf

maretha@nmgroup.co.za

 

Exit mobile version