Spiesgooier Stefan Nel na Amerika genooi

Een van Curro Heuwelkruin se topatlete, Stefan Nel wat veral in spiesgooi uitblink is onlangs deur die World Wide Scholarships (WWS)-organisasie gekies om aan die New Balance Nationals Outdoor-kompetisie vanaf 17 tot 19 Junie in Noord-Carolina in Amerika deel te neem. Kruinie-sporthoof, Danie Roux sê Stefan is op grond van sy prestasie gedurende die onlangse …

Een van Curro Heuwelkruin se topatlete, Stefan Nel wat veral in spiesgooi uitblink is onlangs deur die World Wide Scholarships (WWS)-organisasie gekies om aan die New Balance Nationals Outdoor-kompetisie vanaf 17 tot 19 Junie in Noord-Carolina in Amerika deel te neem.
Kruinie-sporthoof, Danie Roux sê Stefan is op grond van sy prestasie gedurende die onlangse Skole Top 10 Atletiekbyeenkoms en die Suid-Afrikaanse Skole Nasionale Atletiekkampioenskappe gekies waar hy onderskeidelik ‘n afstand van 62,75 m en 62,50 m gegooi het wat aan hom ‘n silwer- en bronsmedalje besorg het.
“Stefan is een van ‘n paar jong Suid-Afrikaanse atlete wat gekies is om die ongelooflike blootstelling van ‘n hoë gehalte internasionale byeenkoms te beleef waar meer as 3 000 atlete van regoor die wêreld betrokke sal wees. Dit is ook die ideale geleentheid waar atlete met potensiaal raakgesien word en moontlike internasionale beurse kan kry omdat verteenwoordigers van die wêreld se top universiteite betrokke is,” sê Roux.
Tydens die byeenkoms word ‘n dag spesiaal aan spiesgooi-atlete afgestaan wat deur voormalige United States of America Track and Field (USATF) spiesgooi-afrigter, Jeff Gorski aangebied word.
“Stefan is ‘n baie toegewyde atleet wat hard werk en ‘n ware ambassadeur vir die skool is. Hy is ook onlangs in die Limpoporugby-proefspan opgeneem en het ‘n goeie kans om weer vanjaar vir die Cravenweekspan uit te draf. Om Suid-Afrika in Amerika te verteenwoordig kos baie geld en persone wat belangstel om hom finansieel te ondersteun kan my gerus by 072 567 3883 skakel,” sê Roux.

Hoof Foto: Verskaf – Stefan Nel van Curro Heuwelkruin in aksie tydens vanjaar se Suid-Afrikaanse Skole Atletiekkampioenskappe.

RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version