Local NewsNews

Koshuisleerder kyk in geweerloop by venster vas

Vyf hoër- en laerskole in en om die stad het die afgelope twee weke onder booswigte deurgeloop. Die Westenburg Polisie ondersoek ‘n saak van gewapende roof nadat verdagtes leerders van Happy Days Combined School na bewe-ring Maandagaand in die koshuis aangehou het. Westenburg polisiewoordvoerder, Mohlaka Mashiane sê een van die koshuisinwoners het ‘n geluid by …

Vyf hoër- en laerskole in en om die stad het die afgelope twee weke onder booswigte deurgeloop.
Die Westenburg Polisie ondersoek ‘n saak van gewapende roof nadat verdagtes leerders van Happy Days Combined School na bewe-ring Maandagaand in die koshuis aangehou het.
Westenburg polisiewoordvoerder, Mohlaka Mashiane sê een van die koshuisinwoners het ‘n geluid by ‘n venster gehoor, ondersoek ingestel en in die loop van ‘n vuurwapen vasgekyk.
“Die gewapende man het die leerder beveel om die venster oop te maak en gedreig om die kind te skiet. Nadat die venster oopgemaak is, het nog vier gewapende mans toegang tot die gebou gekry en leerders glo van selfone en kontant beroof.”
Volgens Mashiane is dieselfde groep aanvallers vermoedelik vir onlangse aanvalle op plaaswerkers in dieselfde omgewing verantwoordelik.
In afsonderlike voorvalle is daar by Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool), Laerskool Ivypark, Laerskool Piet Hugo en Pietersburg Comprehensive School (PCS) ingebreek.
Diewe het die vorige Sondag in die vroeë oggendure by Laerskool Piet Hugo ingebreek waar hulle ook die alarmstelsel gedeaktiveer het en toegang deur die dak verkry het.
“Die draad wat aan die park grens is geknip en die skool se kluise met ‘n hoekslyper oopgesny,” sê waarnemende skoolhoof, Werner Christou. Die booswigte het met kontant en rekenaars gevlug.
Gideon Pelzer, skoolhoof van Oosskool het die inbraak Sondagaand om 22:20 bevestig en gesê die inbrekers het nie veel skade aangerig nie omdat die sekuriteitsmaatskappy binne sewe minute op die toneel was. “Die diewe het wel die alarm se drade geknip voor hul ingebreek het, maar ‘n noodalarm geaktiveer.”
Polokwane polisiewoordvoerder, Ntobeng Phala sê die inbraak by PCS het ook Sondag­aand plaasgevind. Die diewe het deur die dak toegang verkry en die alarmstelsel in die kantore gedeaktiveer. R25 000 kontant is gesteel en geen arrestasies is gemaak nie.
Waarnemende PCS-skoolhoof, Rudi Fick het aan Polokwane Observer gesê dat die boosdoeners groot skade aangerig het. Deure en slotte is beskadig en die kantoor is geplunder.
Laerskool Ivypark het Maandag in die vroeë oggend­ure ook deurgeloop.
Skoolhoof Jaap van der Westhuizen sê sekuriteitsmaats­kappye moet oor naweke skole se sekuriteit opskerp deur patrollie te ry.
“Slegs kontant is gesteel en groot skade is aan ons veiligheidshekke en deure by die kantoor aangerig.”
Mashiane het die voorval bevestig en gesê dat die saak word ondersoek.
Phala en Mashiane kon teen druktyd nie enige verband tussen die inbrake bevestig nie.

Storie: LEANDRI VAN SCHALKWYK
>>leandri.observer@gmail.com

Foto: Die twee kluise wat by Laerskool Piet Hugo met ‘n hoekslyper oopgesny is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button