Local NewsNews

Enorme dwelmvonds na wenke, polisie se snelle optrede

‘n 33-jarige Tanzaniër, Camal Mussa Waziri, het Dinsdag in die Lephalale Landdroshof verskyn nadat een van die grootste dwelmvondse nog in Limpopo Maandag deur lede van die polisie by die Groblersbrug grenspos tussen Suid-Afrika en Botswana gemaak is. Tydens die operasie is op bykans R93 miljoen se heroïen beslag gelê. Provinsiale polisiewoordvoerder, Ronel Otto sê …

‘n 33-jarige Tanzaniër, Camal Mussa Waziri, het Dinsdag in die Lephalale Landdroshof verskyn nadat een van die grootste dwelmvondse nog in Limpopo Maandag deur lede van die polisie by die Groblersbrug grenspos tussen Suid-Afrika en Botswana gemaak is.
Tydens die operasie is op bykans R93 miljoen se heroïen beslag gelê.

Onwettige sigarette met ‘n waarde van R6 miljoen is in Mankweng gekonfiskeer.
Onwettige sigarette met ‘n waarde van R6 miljoen is in Mankweng gekonfiskeer.

Provinsiale polisiewoordvoerder, Ronel Otto sê die verdagte het reeds in die hof verskyn, borgtog is geweier en hy bly in aanhouding. Sy sê die polisie het inligting oor ‘n Nissan bakkie wat moontlik dwelms vervoer ontvang.
“Dit is dadelik gesirkuleer en die voertuig is naby Bulgerivier deur die polisie voorgekeer waarna beamptes die bakkie deeglik deursoek en R139 900 kontant, US$10 000 (ongeveer R157 600) en 93 kg sakkies heroïen van ongeveer 1 kg elk gevind,” sê Otto.
Die geld en dwelms is in die bakkie se deurpanele, agter die sitplekke en agter op die bak gevind.
Onwettige sigarette
Intussen het ‘n 47-jarige man in die Mankweng Landdroshof op ‘n klag van besit van onwettige sigarette verskyn en die saak is tot Junie vir borgaansoek uitgestel.
Lede van die polisie se opsporingseenheid het Saterdag in Mankweng op twee verdagtes wat glo onwettige sigarette naby Boyne vervoer het, toegeslaan.
“Die polisie het weer inligting oor beweerde misdrywe ontvang en vinnig gereageer. Hulle het twee verdagtes in twee afsonderlike voertuie probeer aankeer, maar een het te voet gevlug,” sê Otto.
Die waarde van die sigarette in beide voertuie word op R6 miljoen beraam. Die voertuie is ook gekonfiskeer. Die verdagte wat gevlug het, is steeds op vrye voet. Mankweng polisiewoordvoerder kon teen druktyd nie sy naam bekendmaak nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Regs: ‘n Polisiebeampte gebruik ‘n hoekslyper om die panele van ‘n bakkie oop te sny waarin heroïen ter waarde van R93 miljoen gevind is. Links: 93 kg heroïen is in ‘n bakkie naby Groblers­brug grenspos gevind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button