Passie vir kruieplantjies is ‘Blommekind’ se forté

Jolene Maré is 'n mens wat hou van plante, en in besonders kruieplante asook die hoofbrein agter die Farmyard Plaaswerf Kus en Handewerk Mark.

POLOKWANE – Verlede Saterdag was die maandelikse Farmyard Plaaswerf Kuns en Handewerke Mark gehou, die tweede keer sedert sy ontstaan sowat ‘n maand gelede.

Die hoofbrein agter hierdie markgeleentheid is Jolene Maré. Dié plaaskind van net buite die stad se omgewing is ‘n mens wat hou van plante, en in besonders kruieplante. Die 25-jarige Jolene bedryf tans ‘n kleinskaalse kruieplantkwekery genaamd Blommekind, buite die stad op ‘n plaas in die Ysterberg-omgewing, waar sy aan twee gevestigde kwekerye in Polokwane plantjies verskaf.

“Ek wou nog altyd iets op my eie doen. Na ek in 2008 by Hoërskool Pietersburg my matriek voltooi het, het ek B.Comm bemarking in die Kaap studeer. Daarna het ek in die Kaap by ‘n kwekery begin werk, en dis waar die saadjie vir my liefde vir plante geplant is. Ek het besef ek wou nog altyd vir myself werk en het besluit om eendag my eie kwekery hier in Polokwane op die been te bring, maar vir nou hoofsaaklik allerlei kruieplante,” sê Jolene.

Voor haar kwekery van stapel gestuur is, is sy na Thailand toe vir sowat ‘n jaar waar sy skoolgegee het. Sy vertel dat sy Oktober verlede jaar teruggekeer het en haar hier in Polokwane kom vestig het.

“Tans het ek in die omgewing van 1 500 plantjies wat ek self op die plaas gesaai het want by my woning het ek eenvoudig net nie plek om al die plantjies te huisves nie. Die naam Blommekind is deur my ouers, my pa Stephan en my ma Noelene, aan my toegeken. Dis blykbaar omdat ek as kind nogal heel behep geraak het met blommetjies, in besonders die bloeisels van pronkertjies. Ek het besluit die bynaam sal geskik wees vir ‘n naam vir my kwekery,” vertel Jolene.

Jolene sê haar uiteindelike wens met die maandelikse mark is om iets anders aan te bied en uitstallers te lok wat iets uitsonderlik kan skep, produkte wat ‘n mens nie in ‘n winkel te koop sal kry nie. Sy sê daar sal wel voorsienning vir eet- en drinkgoed wees, asook varsprodukte. Sy is vasberade om ‘n konsep van ‘n kuns en handewerk mark te vestig instede dat dit ontaard in ‘n basaar of ‘n vlooimark. “Ek verwag vir my tweede probeerslag om sowat 25 uitstallers te hê. Ek hou van die ligging van die Farmyard Trading Post aangesien dit naby gevestigde winkelsentrums geleë is. Nie baie mense weet van hierdie markgeleentheid nie, maar ek glo dat meer mense uiteindelik hierdie markdag sal ondersteun,” sê sy.

Jolene vertel dat die kwekery ‘n eerste probeerslag is en dat sy oogmerk om later op groter skaal te kweek. Sy voeg by dat sy onlangs ‘n kontrak met ‘n boerdery bewerkstellig het om groentesaad te ontkiem.

“My ouers ondersteun my ten volle. Ek is een van sewe kinders en ons is ‘n baie nou gesin. My ma en van my broers en susters het by my eerste markdag my kom ondersteun deur ook uit te stal. Sekerlik omdat dit nog ‘n klein begin is, is die kwekery nog nie baie winsgewind nie, maar vir nou is dit genoeg. Tussendeur help ek tydelik by ‘n onderneming in Seshego met administratiewewerk vir ‘n ekstra inkomste.”

Sy sê die tydelike werk is ook om haar besig te hou, want sy sê sy kan nie net die heeldag sit en kyk hoe ontkiem en groei haar kwekery se kruieplantjies nie. Vir oefening neem sy aan X-Fit deel wat haar help om fiks te bly.

“Ek hou van die stad en die mense. Dis vir my mense met ‘n ongelooflike ope gesindheid en ek hou daarvan. Bowendien, ons hele huisgesin en van my familie is in hierdie stad en sy omgewing gevestig. Soos ek genoem het, is ons huisgesin baie geheg aanmekaar en is dit vir my lekker om naby hulle te wees.”

Vir nou sê Jolene is daar 12 verskillende soorte kruieplante wat sy mee kweek, maar sy beoog om later kruieolie soos laventelolie te vervaardig. Sy sê dat sy nog baie toekomsdrome loopbaansgewys deur haar kop maal, maar vir nou sal sy vir eers op haar kwekery en die Plaaswerf Kuns en Handewerke Mark konsentreer.

roelof@nmgroup.co.za

Exit mobile version