‘Elke dag is ‘n geskenk, leef voluit’ – Adri

Soms kruis 'n mens se pad met 'n persoon wat 'n blywende indruk laat en Maandagmiddag in die skadu van haar pragtuin en oor 'n heerlike koppie koffie het Adri Knoetze (44) my betower met haar verhaal.

MOKOPANE – Adri is ‘n kind van die Bosveld, wat as jongeling op haar perd deur die vlaktes gevlieg het, hoe vinniger hoe beter, en soos wat sy ouer geword het, het sy alles van diepsee-duik tot ski aangedurf.

Na matriek het sy voetspore regoor die wêreld gaan nalaat waarna sy weer haar pad terug na Mokopane gevind het. Op 11 Mei 2000 het haar lewe egter in ‘n oogwink verander toe sy op pad terug van ‘n werksgeleentheid in Durban in ‘n motorongeluk betrokke was en uit die voertuig geslinger is.

“Ek het op die agtersitplek gesit toe my telefoon lui en ek vinnig my dokumente wou nader trek om ‘n kliënt te help. Ek moes egter my veiligheidsgordel losmaak om die nota’s in die hande te kry. Binne etlike minute het die ongeluk plaasgevind en my lewe is vir altyd verander.”

Adri vertel die nooddienste was vinnig op die toneel en kon haar lewe red want sy het onder meer ‘n skedelbreuk gehad, van haar ribbes was gebreek en haar longe het platgeval. “In die spinale-eenheid het ‘n vrou langs my gelê, wat self ook die slagoffer van ‘n motorongeluk was waarin sy nie net die gebruik van haar lyf van haar nek af verloor het nie, maar ook haar kind. Die vrou was my inspirasie, my herinnering dat ek as parapleeg soveel het om voor dankbaar te wees want ek kan steeds my arms gebruik.”

Adri sê sy moes op die jong ouderdom van 28 die lewe weer in die oë staar met dieselfde siel wat versot is op die buitelewe en sport, maar in ‘n ‘stukkende aardse-pakkie’. “Te danke aan my ongelooflike ondersteuningsraamwerk het ek egter my ‘lyf’ baas geraak.”

Laggend sê sy, sy is dokter toe want haar maag het by die dag groter geword en sy het vermoed sy het ‘n obstruksie in haar derm, maar toe kondig die dokter aan sy is al 20 weke swanger. “Ek was stom geslaan, verheug en terselfdertyd vol vrees, maar vandag is my grootste geskenk my seun; SB (15), perdfris en gesond.”

Sy sê eerlik dat sy deur al die fases van woede tot rou gegaan het en dat sy al menigte kere gevra het, hoekom ek? Sy het egter tot die besef gekom dat die liggaam net ‘n tydelike pakkie is en dat ‘n mens nie daarin moet vaskyk nie. “Ek het besluit om te berus by God se wil.”

Haar oë glimlag en sy sê: “My ma, Cecile Jacobs, my seun SB en die gemeenskap hou my staande, gee my moed en omvou my met liefde… hoe kan ek anders as om dankbaar te wees?”

Adri het ook ‘n handfiets waarop sy gereeld kilometers plat ry en só steeds haar liefde vir sport uitleef. Die Bosveld is haar lushof en dus pak sy en haar seun gereeld bekende roetes aan waar sy talle kiekies neem. “Elkeen van ons dra ‘n kruis wat ons daagliks moet takel, myne is net sigbaar. Wanneer my kruis soms te swaar raak, herinner ek my net aan alles waarvoor ek dankbaar is.” Haar raad aan ander is om elke oomblik aan te gryp. “Ek was een oomblik nog bekommerd oor ‘n bemarkingstrategie vir werk en die volgende oomblik vind ek myself in die spinale-eenheid. Lewe vir die nou, sê elke dag vir jou geliefdes jy is lief vir hulle en geniet die avontuur genaamd lewe, met oorgawe.” Onbewustlik inspireer Adri met haar aansteeklike lag, natuurlike liefde vir die lewe en durf-en-daad persoonlikheid daagliks’n menigde mense.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

Exit mobile version