Bosveld NewsBosveld SportLocal sportNewsSport

Ritme roer haar voete en haar siel

Zané de Wet, 'n bekende dansinstrukteur en eienaar van Z's Dansstudio, leef haar passie uit in afrigting en as choreograaf.

MOKOPANE – Tans is sy besig om ‘n hand by te sit met Hoërskool Piet Potgieter se leerders wat oefen vir ‘n revue wat in Augustus op die planke gaan wees.

“Dans met jou hart en jou voete sal volg,” is die leuse van Zané de Wet.

“Ek geniet dit om met kinders van alle ouderdomme te werk en kan dadelik sien of ‘n leerder deel van my klas wil wees of nie. Ek het in 2009 my studio se deure oopgemaak met slegs vier kinders en vandag is daar 80 kinders en volwassenes wat leer hoe om musiek te vertolk. Daar is hip hop, freestyle en selfs belly dancing klasse. Ek help mense om reg te dans vir spesiale geleenthede soos hulle matriekafskeid.”

Zané sê sy deel graag haar passie en talent wat harde werk is en selfdissipline opskerp. “Ek het in gr. 3 begin met dansklasse. Musiek was van kleintyd in my bloed en ek onthou hoe ek as peuter op die polsende ritme beweeg het. Ek onthou ook hoe ek op troues altyd die een was wat van die begin tot die einde gedans het. In my matriekjaar in 2006 is ek vir ‘n Suid-Afrikaansespan gekies wat oorsee gaan deelneem het.

In 2008 het ek in Amerika ‘n silwermedalje vir hip hop verower en my planne om ‘n sjef te word was van die baan.”

Wanneer sy aan ‘n dansstuk werk, luister sy na wat die musiek vir haar sê en dan volg sy die vertolking daarvan.

Tussendeur haar dansafrigting maak sy self haar danskinders se kostuums en studeer om ‘n onderwyser te word. Zané en van haar dansers vertrek op 7 Julie na Amerika om daar aan ‘n kompetisie deel te neem. Bosveld wens hulle sterkte toe.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button