DA spring in; herstel pad na ongeluk
Lede van die DA het vroeg Dinsdagoggend, toe die meeste mense by die werk was, byeengekom om 'n pad wat as gevolg van verwaarlosing gevaarlik geraak het, te herstel.
POLOKWANE – Mariette Pretorius (Raadslid en Kandidaat vir Wyk 22), het met ‘n span DA-kandidate en DA-lede besluit om Fairly Straat in Ivydale te herstel met behulp van ‘n goedhartige inwoner wat sy masjinerie beskikbaar gestel het vir die dag se werk.
“Gerald McMaster, ‘n inwoner van Ivydale was op Saterdag, 7 Mei in ‘n ongeluk waar sy motor gegly het as gevolg van die toestand van die pad. Tans kan hy nie sy motor gebruik nie.

Ons het die munisipaliteit verskeie kere gevra om die pad te herstel, maar tervergeefs. Nou het ons besluit om dit self te doen, want ons gee om vir die gemeenskap,” vertel Pretorius.
Terwyl die masjienerie die grond losgemaak het, het die DA-lede klippe opgetel en in die slote gaan gooi voor daardat grond ingegooi word om dit op te vul.
“Hierdie is net ‘n tydelike oplossing. Met die volgende reën sal die pad weer verspoel, maar ons hoop die munisipaliteit sien dit en doen iets aan hierdie pad. Die klein motors gly op die pad en as ‘n mens nie gewoond is om grondpad te ry nie, kan dit baie gevaarlik word,” vertel Pretorius.




