Local NewsNews

‘Waag meer,’ sê Elvis Blue

Status, geld en roem is vir Elvis Blue irrelevant al is hy dankbaar oor die sewe Ghoema-toekennings wat hy verlede maand ontvang het. “My lewe is opwindend, ek is dolgelukkig met my vrou, Chireze en twee dogters, Lila en Jua in die pragtige George waar ek heelwat inspirasie vir my liedjies put en my musiek …

Status, geld en roem is vir Elvis Blue irrelevant al is hy dankbaar oor die sewe Ghoema-toekennings wat hy verlede maand ontvang het.
“My lewe is opwindend, ek is dolgelukkig met my vrou, Chireze en twee dogters, Lila en Jua in die pragtige George waar ek heelwat inspirasie vir my liedjies put en my musiek word waardeer. Ek is op ‘n goeie plek en gaan hard werk om daar te probeer bly.”
Hy dink die SAUK-besluit dat daar vir ‘n proeftydperk van drie maande 90% plaaslike musiek oor radiostasies gespeel gaan word, is baie goed want dit kan jongmense inspireer om te besef daar is ‘n plek vir Suid-Afrikaanse musiek.
Al waaroor hy spyt is, is dat hy nie al vroeër in sy lewe meer gewaag het nie. ”Ek het aanvanklik nie gedink Laurika Rauch sal belangstel om saam met my te werk nie en sy het dadelik ingestem.” Hulle DVD, Hart en See, is ook met ’n Sama vereer.
Vir hom is sukses ‘n geskenk, genade wat jy van God ontvang na harde werk. “Jy moet inspirasie hê of soek om liedjies te skryf. Dit is soos om in ‘n donker kamer na ‘n paar baie mooi skoene te soek. Dit is daar, jy moet dit net vind. Hoe meer jy soek, hoe groter is jou kans om dit te vind. Die groot fout wat jy egter kan maak, is om te dink jy het die skoene daar gesit.”
Hy hoop dat hy vir sy kinders ‘n goeie voorbeeld van integriteit en nederigheid stel en dat hulle nooit sal neerkyk op ander mense nie. “Ek hoop ook dat hulle nooit desperaat vir die aandag van mans sal wees nie, maar weet wie hulle is.”
Elvis Blue, oftewel Jan Hoogendyk beplan om steeds sowat 130 optredes per jaar te doen en sien na elke vertoning uit en het geen probleem dat mense hom vir ‘n geselsie of foto voorkeer nie. “Ek is juis mal daaroor.”

Storie: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Foto: Elvis Blue sing Saterdag van sy treffers by Wiele 500 se Dameskuier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button