Skenkings aan fonds gee mammas moed

Review het met twee vroue (dié stigters van Amazing Grace Fertility Fund) gesels wie albei 'n moeilike paadjie gestap het om swanger te raak.

POLOKWANE – Om kinders groot te maak is nie ‘n maklike taak nie, tog begeer ‘n groot deel van die samelewing ‘n bondeltjie vreugde in hul lewens. Dié vreugde is egter nie altyd vir almal beskore nie, en soms moet mediese tegnologie intree om Moeder Natuur ‘n hupstoot te gee.

Review het met twee vroue gesels wie albei ‘n moeilike paadjie gestap het om swanger te raak.

Lizani Muller vertel dat sy en haar man, Johan, vir ses jaar gesukkel het om swanger te raak. Hulle het na twee jaar ‘n fertiliteitspesialis gaan sien wat toe met ‘n laporoskopie bevestig het dat sy ‘n unicornuate uterus het (‘n halwe baarmoeder en net een buis). “Dit beteken ek het net ‘n halwe baarmoeder en net een buis en dat ons kanse om normaal swanger te raak baie skraal was,” sê Lizani.

Hierna het Lizani besluit om kunsmatige inseminasie (KI) te probeer, maar die prosedure was onsuksesvol. In 2013 het hulle uitgevind dat sy normaal verwag. Haar swangerskap was ‘n hoë risiko swangerskap, maar alles het goed afgeloop en op 11 Desember 2013 is Lian Burger Muller gebore.

“Ons was verheug, maar toe hy drie maande oud was het ons uitgevind hy het bilaterale stemband paralise en dit het van daar af net al hoe slegter gegaan; hy was van toe af in en uit die hospitaal. Op 24 Oktober 2014 is ons mooiste seuntjie oorlede na vier weke in die intensiewesorgeenheid op ‘n ventilator. Ons harte is in duisende stukke gebreek.”

Te midde van hul hartseer wou die egpaar graag weer ‘n kind hê en Lizani het vir ‘n tweede opinie gegaan by ‘n ander fertiliteitspesialis wat voorgestel het dat hulle In-Vitro ‘n kans gee. “In-Vitro is ‘n ongelooflike duur prosedure, dit kos tussen R40 000 en R60 000 per behandeling. Mediese fondse sien dit as ‘n kosmetiese prosedure en betaal glad nie daarvoor nie. Ons wou baie graag vir hierdie behandeling gaan, maar ons het ongelukkig nie die nodige fondse gehad nie. So ek het besluit om op Facebook vir geld te vra met die belofte om ‘n fonds te stig om ander te help met die proses. Binne ‘n kort tydjie het ons genoeg geld gehad om voort te gaan met die prosedure en ek is nou 25 weke swanger.”

Daar het sowat R20 000 in die Amazing Grace Fertility fund wat gestig is oorgebly, wat verder gegroei het en die eerste paartjie wat nou uit die fonds gehelp word, is Paulien en Lohann Oosthuizen.

In hulle agt jaar as getroudes moes hulle mekaar deur vyf miskrame asook ‘n buisswangerskap ondersteun. Paulien ly aan Polisistiese Ovariumsindroom (PCOS) en wou graag ‘n fonds stig om ander mense in te lig oor die siekte. Sy en Lizani het besluit om eerder een fonds te stig en saam te werk om geld in die fonds te sit.

“Na ‘n miskraam is daar soveel seer en emosionele skade dat jy bang is om weer swanger te word. Ek sou oorspronklik ‘n surrogaatma genader het, maar my dokter het aangeraai om eerder In-Vitro te probeer. Ek begin nou einde Augustus met behandeling om my hormone te stabiliseer. Ons mikpunt vir die fonds is R100 000 aangesien ek medikasie gaan benodig om die baba te behou. Ek en Lohann is vreeslik bang om weer deur die seer te gaan,” vertel Paulien.

Lizani sluit aan en vertel dat dit ‘n baie emosionele proses is. “Elke maand beleef jy afwagting en geweldige teleurstelling wanneer jy sien jy is nie swanger nie. Vir ‘n man is dit emosioneel moeilik, maar vir ‘n vrou is dit fisiek en emosioneel moeilik.”

Paulien vertel baie mense simpatiseer net met die vrou en besef nie dat die mans ook seer ervaar in hierdie proses nie.

Lizani en Paulien het besluit om die Musiekpret aand met Jaco Dixon te reël en het Mev. Polokwane, Jackie Shrives, en Claudette Olivier, by die reëlings betrek. Die kaartjies was vinnig uitverkoop en alle opbrengste is na die fonds oorgedra.

maretha@nmgroup.co.za

Exit mobile version