Gepoeier, gepaint, geklik…

Gee gepoeier en gepaint ‘n kreatiewe kinkel en die uitkoms is Flower Crown Portraits, ‘n fotosessie met ‘n verskil.

Hilda Pretorius

POLOKWANE – Twee van die stad se bekende sakevroue draai mooimaak en spog behoorlik op haar kop om ma’s en dogters, pa’s en seuns en ja, selfs jou viervoetkind te laat blom.

Flower Crown Portraits, die handewerk en breinkind van grimeerkunstenaar Nytjie Visser en leefstylfotograaf Marika O’Reilly, is geen gewone sessie voor die kamera nie.

Die studio bars uit sy nate van blomme, kleur, verfstokkies. Van gelukkige menswees.

Nytjie, die eienaar van Opgedollie, ‘n besigheid waarvan die dienste insluit grimeersessies, haarstilering, ‘n eie reeks grimering wat te koop is, asook die uitverhuur van backdrops, het vir Marika verlede jaar genader om die kamerawerk vir die projek te behartig.

Dit was ‘n kitswenresep. Die vroue het sosiale media ingespan om die konsep bekend te kry en waar Nytjie aanvanklik gehoop het op 10 fotosessies, het hulle na 80 opgehou tel…

“Vroue hou nou maar eens daarvan om op te dress, te grimeer en mooi te voel. Die lewe is so gejaagd deesdae dat dit vir hulle ‘n groot bederf is om ‘n halwe dag af te vat en te kom mooimaak,” sê Marika.

Vir Nytjie is elke gesig ‘n “nuwe blom in die Opgedollie-tuin”.

“Die idee is juis om elke vrou weer te laat blom, maak nie saak hoe verlep sy voel nie. Die sessies laat vroue nuut na hulself kyk, hoe sy lyk en hoe sy oor haarself kan voel,” voeg sy by.

Dié gekwalifiseerde skoonheids-deskundige het ook ‘n kursus in gevorderde grimeertegnieke in die sak, maar meen grimeer is ‘n kuns waarvan jy boeke jou min kan leer.

Marika, ‘n onderwyser wat by PHS skoolgehou het, neem reeds bykans agt jaar foto’s, en voltyds reeds die afgelope jaar-en-half. In ‘n stad waarin daar talle fotograwe is, meen sy daar is vir elkeen ‘n plekkie in die son, aangesien elk met hul eie stempel op ‘n foto afdruk, sê sy.

Die hoogtepunt van die kreatiewe sessies is sonder twyfel die finale produk, asook die terugvoer wat dié twee kunstenaars kry.

In die pyplyn is tans buiteblommesessies, ‘n groter studio en ook die afskop van ‘n nuwe breinkind, die Superhero-fotosessies.

Dié projek gee pa’s en seuns die geleentheid om hulle innerlike helde op kamera vas te vang. Vir dié wat dalk ietwat skugter is oor dié idee, het Marika raad…

“Jy weet nooit wat môre gebeur nie, foto’s is al memories wat jy het”.

Nou toe, gaan poeier en paint, en kielie die kamera met jou memories!
hilda@nmgroup.co.za

Exit mobile version