Bosveld NewsMunicipalNews

Slaggate op Mookgopong paaie herstel

Die talle slaggate in die paaie op Mookgopong is onlangs herstel danksy die ingryping van die burgerorganisasie, AfriForum.

LIMPOPO – AfriForum het die Mookgophong munisipaliteit op 15 April op terme geplaas om die slaggate in die dorp te herstel. Indien die munisipaliteit nie aan hierdie ultimatum voldoen het nie, sou AfriForum die herstelwerk uitkontrakteer en gevolglik die onkoste van die munisipaliteit verhaal.

“AfriForum sal verseker dat die munisipaliteit tot verantwoording geroep word deur selfdoen-aksies.

“Met dié aksies verseker ons dat belastingbetalers die nodige dienslewering ontvang,” het Hein Gonzales, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo, gesê.

AfriForum het ook vandeesweek sy nasionale veldtog om slaggate te herstel begin. Sowat 12 000 slaggate in die dorpe waar die organisasie takke het, sal herstel word.

Marcus Pawson, AfriForum se hoof van plaaslike regerings, sê die doel van die projek is om staatsonafhanklikheid binne gemeenskappe te bevorder deur van selfdoenaksies gebruik te maak.

“Tydens die organisasie se ’10 dae van selfstandigheid’-veldtog wat in 2015 plaasgevind het, is daar sowat R1,3 miljoen aan die herstel van slaggate spandeer. Met die nuwe veldtog wil ons ‘n veel groter impak maak deur paaie regoor die land te verbeter. Verskeie munisipaliteite is reeds skriftelik deur AfriForum gemaan om die paaie sélf te herstel. Munisipaliteite wat nie aan dié eise gehoor gee nie sal vir die onkostes verantwoordelik wees,” het Pawson gesê.

‘n Totaal van 125 AfriForum-takke neem aan die veldtog deel en sowat 300 ton teer sal tydens herstelwerk gebruik word. Die veldtog kom op 31 Mei tot ‘n einde.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button