Bosveld NewsLocal NewsNews

Mev SA titel wink vir Lim-skoonheid

Margy Pretorius (33), 'n boorling van Mokopane, is 'n trotse ma van vier en vandag óók 'n top 25 finalis vir Mev Suid-Afrika.

MOKOPANE  – Die reis na die top 25 was ‘n soet avontuur met die tawwe beoordeling van 100 skoonhede, die bywoning van werkwinkels en netwerking waarna Pretorius op 29 April tydens die glansryke Kansa Gala-aand by Emperors Palace as ‘n finalis aangekondig is.

“Die oomblik toe ek my naam hoor was ek oorweldig met emosies van dankbaarheid en geluk. Ek weet God het ‘n plan met my in die kompetisie en dit is duidelik dat die plan nog nie voltooi is nie,” sê ‘n nederige Pretorius. Die spoggerige geleentheid het met die jare die eerbare reputasie vir die insameling van reuse bedrae vir Kansa opgelewer. Die glansaand was ook die ideale geleentheid vir gaste om hul glaspantoffels af te stof en heerlik saam te kuier terwyl hul onder andere deur ‘n modevertoning van Joseph Ribkoff bekoor is.

Die beoordelaars, Zuraida Jardin, Joan Madibeng, Vusi Zwane en Cindy Nell Roberts het glo erken dat dié tot dusver die moeilikste ronde van beoordeling was, want al die semi-finaliste het skoonheid, toewyding en grasie vertoon.

Pretorius en die ander finaliste pak nou ‘n reis gevul met fondsinsameling, self-ontwikkeling en netwerking aan, waar hul elk geskuur en geskaaf word vir die moontlikheid om as Mev Suid-Afrika in Oktober gekroon te word.

Pretorius vertel haar eerste Cuppa for Kansa sal op 27 Mei by die Godiva Spa in Groblersdal gehou word, waar die skonergeslag ‘n paar wenke tydens ‘n grimeer-werkswinkel kan leer. Die werkswinkel sal deur Sorme se top grimeerspan aangebied word. Besprekings is noodsaaklik so alle belangstellendes kan haar ‘n epos stuur na margypretorius@yahoo.com. Sy beplan ook ‘n onvergeetlike en feestlike aand by die Atterbury teater en kaartjies sal by computiket beskikbaar wees.

Pretorius doen ‘n beroep op alle besighede, wat moontlik sal belangstel om as ‘n borg vir haar geleenthede op te tree, om haar ‘n epos te stuur na margypretorius@yahoo.com. “Ek bemark al my borge op die gewilde sosiale netwerke en hul handelsnaam word op my program aangebring.” Besighede wat sal belangstel om as haar Goue borg tyden Mev SA op te tree kan haar ook ‘n e-pos stuur vir meer inligting.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button