Bosveld NewsNews

Bejaarde paartjie beloop ‘n karavaan penarie halfpad kus toe

BOSVELDPRAATJIES: Soos vorige jare maak ek en my vrou, Laetitia, gereed om vir ‘n maand by Rocky Bay aan die Kwazulu-Natal se kus te gaan uitspan.

Ons vriende van die Piet Potgieter ouetehuis, Ted en Mart Beukes vergesel ons jaarliks met hulle karavaan en daar word afgespreek om vanaf Mokopane na Pretoria te vertrek vir laaste kampinkopies, daar te oornag en mekaar dan die volgende dag êrens oppad na Harrismith weer te ontmoet.
Ted (86) is my swemmaat en die oudste deelnemer aan die bekende Midmarmyl wat ek en hy elke jaar saam aanpak.
Die volgende oggend is Ted en Mart teen die eerste steil bulte by ons verby en ons weet ons kry mekaar later by die eetplek langs die N3.
Dit was teen een van daardie lang bulte dat ek beweging agterkom in my truspieël en my eerste gedagte is dat die yskas se deur nie behoorlik gesluit is nie en dat die karavaan se vloer, soos ‘n vorige keer besaai gaan wees met allerhande taai stroop en botter.
By die eerste gelyke hou ons stil waar die pad n breë skouer maak want ek moet my nou voorberei vir groot uitpak en skoonmaak.
Die R21 gons van die druk verkeer toe ek uit die motor klim en my haas om die karavaandeur oop te kry om my ellende te aanskou.
Die skok is egter veel groter toe ek die deur oopmaak en ‘n ongenooide passasier my bespring om my uit die pad te kry met sy buit!
Ek is van balans en beland op my rug in die sementvoor langs die pad en ek en die man het mekaar om die keel beet. Vroulief sit intussen heel rustig voor in die motor toe drie motors met skreeuende remme voor ons motor stilhou en die jong manne vir haar in die verbyhardloop skree: “Mevrou iemand rand jou man aan”.
Intussen het die desperate passasier homself uit die voete gemaak sonder sy buit, twee inkopiesakke volgepak met ‘n maand se bevrore vleis. Al ons klere was uit die laaie geruk en het oral gelê.
Ons sien ook dat die man honger was, want op die vloer staan ‘n halwe bottel koeldrank en ‘n stuk brood waarmee hy besig was toe sy ‘geleendheid’ vroeër stilgehou het as beplan
Die man moes in Pretoria waar ons oornag het ingeklim het tewyl ons bagasie gelaai het en is dus daar toegesluit. Ek wonder maar net waar sou hy afgeklim het as ek nie onraad vermoed het nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button