Local NewsNews

Akademie Reformia verwelkom nuwe hoof

Hennie Combrink (30) het met Review gesels oor sy loopbaan voordat hy by Akademie Reformia aangesluit het, asook sy visie vir die skool.

POLOKWANE – Akademie Reformia begin hierdie maand ‘n nuwe era by die skool met die verwelkoming van dié nuwe skoolhoof, Hennie Combrink (30), wat die leisels by die oud-skoolhoof, Marietha Nel, gaan oorneem.

Combrink het sy skoolloopbaan voltooi by Hoërskool Pietersburg in 2003, waarna hy natuurbewaring studeer het aan die Tshwane Univeristeit van Tegnologie.

“Onderwys het nog altyd diep in my are geloop, my pa is een van vyf kinders waarvan drie skoolhoofde is.

“Ek het natuurbewaring studeer omdat ek juis wou afbreek van die tradisie dat almal in my familie in die onderwys is, maar aan die einde van die dag was onderwys steeds vir my ‘n enorme trekpleister,” vertel hy.

Combrink het in 2006 sy nasionale diploma in natuurbewaring ontvang en het sy droom om ‘n natuurbewaarder te word by die Kruger Nasionale Wildtuin begin najaag.

Hy het in 2008 sy B.Tech in natuurbewaring voltooi. Na vyf jaar as natuurbewaarder het hy egter besluit hy kan meer vir God se koninkryk doen as onderwyser, eerder as om lang tye alleen in die wildtuin te werk.

“Kort nadat ek tot die besef gekom het dat ek meer kan doen deur met kinders te werk as in die veld het ek in 2011 ‘n oproep van Nick Pieterse van Genl. Piet Joubertskool in Polokwane ontvang en hy het my gevra of ek sou belangstel om by dié skool aan te sluit as onderwyser.

“Dié oproep en versoek het my onmiddellik verseker dat ek die regte besluit gemaak het om ‘n onderwyser te word,” verduidelik Hennie.

“By die skool was daar nie regtig tyd om stadig aan die onderwysatmosfeer gewoond te raak nie. Daar was niemand wat my eers kon touwys maak oor klasgee nie en dit was sink of swem,” skerts hy. Hy sê sy ervaring is ‘n sprekende voorbeeld dat ‘n mens nie eintlik kies om ‘n onderwyser te wees nie, maar dat die onderwys jou kies omdat ‘n mens ‘n roeping moet hê om ander te help hulself vind en belangrike lewenslesse leer.

In 2012 het Hennie sy onderwyshorisonne verbreed deur by Laerskool Chris Hofmeyer aan te sluit. “Dit was ‘n kleiner skool met minder as 250 leerders. Omdat daar slegs agt onderwysers was, was daar verwag dat almal betrokke moes wees by al die aktiwiteite. Ek het daar sport, redenaars, en konserte afgerig. Ek het ook op die beheerliggaam gedien, die bus bestuur en koshuisdiens gedoen. My tyd by die skool het my vaardighede uitgebrei en dit het my toegerus vir my nuwe verantwoordelikhede as skoolhoof.”

Hy het in 2013 sy nagraadse sertifikaat in onderwys ontvang en sy B.Ed Honneurs Cum Laude ontvang in 2014.

Hierdie jaar is vir Hennie ‘n opwindende avontuur met baie nuwe uitdagings. Hy en sy vrou, Lynn-Marié, het hulle eersteling, ‘n dogtertjie, Lize in Februarie verwelkom en hy is in Maart vir die onderhoud by Akademie Reformia genooi.

“Met al die druk wat daar deesdae op Christelike Afrikaanse staatskole is, het ek vroeg in my onderwysloopbaan besef dat privaat onderrig die enigste behoud vir ons moedertaal en Christenonderwys is,” verduidelik hy.

“My visie vir die skool is om dit te help groei as ‘n Afrikaanse skool met ‘n sterk Christelike invloed op ons vakaanbieding. Ek sien baie uit na die nuwe verantwoordelikhede en uitdagings.”

Sy pa en skoonpa is sy grootste rolmodelle en albei is al dekades lank in die onderwys, so hulle dien as sy steunpilare en adviseurs.

Hennie spandeer graag sy vrye tyd saam met sy familie en probeer so gereeld as moontlik wildtuin toe gaan. Hy geniet fotografie, teikenskiet en om by die gimnasium te oefen.

Ek probeer my bes om my lewensleuse uit te lees: ‘Meet jouself altyd met die Woord van God en enige werk wat jy doen moet jy doen tot eer van God.’,” sluit hy af.

calvyn@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button