‘Ma-wees ‘n groot geskenk’

Met die viering van Moedersdag het Bosveld by die beeldskone Lezanne Abrahamse, trotse ma van vier, gaan kuier en met haar gesels oor dié edele 'beroep' van ma-wees.

MOKOPANE – “As jy ‘n ma is, is jou kind jou hartklop, want jou kind was deel van jou lyf en jy gee jouself, jou alles, om die kind te beskerm. Daar is nie ‘n groter seën as die gawe van moederskap nie,” sê Lezanne.

Lezanne en haar man, Robert, het vier prag kinders, Janco (gr. 4), en ‘n drieling, Mieke, Misha en Robert, oftewel Chucky (gr. 1). Lezanne vertel sy het altyd gedroom van ‘n groot familie en sy sal nie omgee om nog ‘n kind of twee te hê nie. Die pad na moederskap was egter nie altyd vir haar rooskleurig nie, want sy het ‘n miskraam voor Janco se geboorte gehad en twee na sy geboorte. “Die Here het egter my pyn gestil en my gebede beantwoord met die seën van die drieling.”

Sy sê laggend sy sal nooit vergeet hoe Robert sy sproete weggeskrik het die dag toe die dokter aankondig dat daar nie net een hartklop is nie, maar drie.

Die lekkerste van ma-wees vir haar is om haar kinders gelukkig te sien, die opregte drukkies en onvoorwaardelike liefde wat hulle so vrylik deel. Haar man en die twee dogters is baie na aan mekaar en sy en haar twee seuns spog met ‘n hegte band. “Saam vorm ons ‘n gedugte span waarvan God ons anker is. Ons speel, rol en stoei saam met ons kinders en ons staan altyd bankvas agter mekaar.” Mieke en Misha sê hulle is mal daaroor om saam met hul ma te shop. “Ons bad ook soms saam en dan gesels ons oor alles,” koor hulle. Hulle vertel ook dat hul lief is vir grimering en dat hul graag met hul ma se hakskoene speel. Dit is duidelik dat hulle in hul ma se stylvolle voetspore gaan volg.

Chucky en Janco is baie na aanmekaar en Janco is Chucky se held vertel Lezanne.

“Hul albei is rugbygeesdriftiges, maar Chucky het die hart van ‘n leeu.”

Haar raad aan ander ma’s is: “Wees geduldig, prys elke kind vir hul uniekheid, moenie kinders vergelyk nie, moenie jou drome deur jou kind leef nie en wees onvoorwaardelik lief vir hulle. Ons is hul aardse herders en God het hulle aan ons toevertrou.” Bosveld wens al die ma’s ‘n geseënde Moedersdag toe.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

Exit mobile version