Local NewsNews

Vigsaktivis terug met ‘n slang om sy nek

André van Zilj haal Lucille versigtig uit sy rugsak en drapeer haar om sy nek vir 'n foto

MOKOPANE – Hy is eintlik vanoggend oppad na die Park Hotel waar hy die personeel gaan toespreek oor vigs en hoe om die lewe elke dag op ‘n positiewe drafstappie aan te pak.

André (66) se luislang, Lucille, is al gewoond dat daar na haar en haar baas gestaar word en sy strek haarself langsaam uit. André is ‘n vigsaktivis wat landwyd reis en motiveringspraatjies gee.

Hy vertel hy is die langslewende persoon wat die MIV-virus het op aarde. Hy het so vier jaar gelede ook op Mokopane gekuier en is bly om terug te wees met Lucille, die keer in sy rugsak.

Verlede maand het André en Lucille die bekende Argus fietswedren voltooi. Eers wou die organiseerders niks daarvan weet dat Lucille saam die tog so al om sy nek aanpak nie.

Dit is toe dat André besluit het om haar in sy rugsak te sit met net haar kop wat uitsteek. So met die langtrap het hy haar egter uitgehaal en om sy nek gedraai. Hy sê trots Lucille is die enigste slang wat al ooit die Argus voltooi het en sien daarna uit om volgende jaar weer die rit saam haar aan te pak.

André het dit sy roeping gemaak om sy vigsstatus te gebruik om ander mense te inspireer.

Hy hou 46 wêreldrekords wat insluit om met ‘n paar rolskaatseTafelberg uit te klim, 13 dae in ‘n borrelbad te sit en om vir 1 000 uur as pompjoggie by ‘n vulstasie diens te doen.

Hy het ook al vir tien dae en drie uur op ‘n Boeing 747 gereis en vir 50 uur aaneen op ‘n telefoon geklets. Vir sy 46ste rekord het hy met vier mijoen mense ge-Skype.

Hy gaan binnekort ‘n draai in die Kaap maak waar hy gaan help om sowat 3 000 Oreo-koekies vir ‘n kinderhuis te bak.

Sedert hy sowat tien jaar gelede na Knysna verhuis het, het hy al duisende kilometers op sy fiets afgelê. Hy groet vriendelik, spring op sy fiets en sê vir oulaas dit is belangrik om die goeie in die lewe raak te sien en nie die suur nie.

 

 

 

 

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button