Local NewsNews

Stad rou oor Vision of Hope se engel

Annemarie Booysen (55) was in 2007 met borskanker gediagnoseer.

POLOKWANE – Die kanker is verwyder en sy was in remissie.  Verlede jaar het dokters weer kankergewasse in haar ander bors opgespoor waarna sy onmiddelik behandel is. Op Maandag, 11 April, het Annemarie Booysen (55) haar kankerstryd verloor.

Sy word onthou as stil, saggeaard en altyd gereed om te help waar sy kon.

Annemarie was vir drie jaar betrokke by Vision of Hope Foundation Polokwane.  Een van haar kollegas by Vision of Hope, Drienie van Wyk, het haar herinneringe van Annemarie met Review gedeel.

“Sy was die voorsitter van Vision of Hope en ‘n lieflike mens. Ek het nie woorde om haar te beskryf nie en ons almal gaan haar bitterlik baie mis.

“Sy was altyd positief en het nooit geaarsel om iemand te help nie,” sê Van Wyk.

Bonita Rodriquez Gomes, Annemarie se dogter, vertel dat haar ma ‘n engel was wat graag na ander wou omsien en hulle help waar sy kon.

“Sy het gelewe vir Vision of Hope en het altyd gesê dit is haar roeping om mense te help waar sy kon.”

Annemarie laat ‘n groot leemte en dit is duidelik van al die boodskappe op die Vision of Hope Facebookblad.

Annemarie laat haar man, Mannetjies, drie kinders en twee kleinkinders na.

Haar begrafnis vind plaas vanuit die N.G. Kerk Renosterpoort, Ladanna op Saterdag om 11:00.

Related Articles

Back to top button