Jakkie van der Colff deurkruis land te fiets

Dit sit nie in elke man se fietsrybroek om die land van noord na suid en daarna van oos na wes plat te ry nie, maar Jakkie van der Colff (74) is tuis op ‘n fiets en blakend gesond. Van der Colff het verlede Donderdag in Polokwane aangekom en behoort vandag (Donderdag) volgens sy reisplan …

Dit sit nie in elke man se fietsrybroek om die land van noord na suid en daarna van oos na wes plat te ry nie, maar Jakkie van der Colff (74) is tuis op ‘n fiets en blakend gesond.
Van der Colff het verlede Donderdag in Polokwane aangekom en behoort vandag (Donderdag) volgens sy reisplan in Kroonstad te wees.

Plaaslike fietsryers saam met Jakkie van der Colff (middel) wat die land van noord na suid en daarna va oos na wes deurkruis.

Nadat hy in 2012 met hoë bloeddruk en depressie gediagnoseer is, het hy vir homself die uitdaging gestel om per fiets vanaf Pretoria na Kaapstad te reis om sy geestelike en fisiese gesondheid te verbeter. “Op 71 het ek die doelwit gehad om die afstand in minder ure af te lê af as wat ek oud is en het dit uiteindelik in 63 uur rytyd voltooi. Die gogga het my in 2014 nuut gebyt en ek is toe weer op my fiets al langs die landsgrens van Kaapstad regom Suid-Afrika tot weer in die Kaap in drie maande,” spog Van der Colff.
Hy beplan nou om van die land se mees noordelike punt, Musina na die mees suidelike punt, Kaapstad en dan weer van oos, George na wes, Alexanderbaai te ry. “Ek ry ook ten bate van Gryskrag, ‘n organisasie wat veral ouer mense met raad en advies oor aktuele sake soos finansies en gesondheid bystaan.”
In ‘n onderhoud verlede Donderdag met Polokwane Observer sê hy dat hy niks hoef te bewys nie, maar die uitdagings hoofsaaklik aanpak vir sy eie gesondheid en welsyn. “Dit is nie goed om ‘n gesonde verstand in ‘n onfikse liggaam te huisves nie, soveel te meer wanneer ‘n mens ouer word. Om die lewe voluit te geniet, moet jou liggaam en siel fiks wees.”
Hy beplan om volgende Maandag in Kaapstad aan te kom waarna hy die Woensdag van George sal vertrek en op 22 Mei sy uitdaging in Alexanderbaai voltooi. Die totale afstand is 4 267 km.
Plaaslike fietsryers het Donderdag vir Van der Colff by ‘n plaaslike fietswinkel ontmoet waarna hulle ‘n ent saam met hom uit die stad gery het.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Jakkie van der Colff durf die lang pad na Kaapstad aan.

Exit mobile version