Local NewsNews

Van groentjie tot warrelwindwoordvoerder

Woordvoerder van die Departement Maatskaplike Ontwikkeling, Adéle van der Linde, beskryf haarself as 'n warrelwind grootbek wat 'n hart vir mense het en daarvan hou om te lag.

POLOKWANE – As kind het sy veeartsenykunde in die visier gehad, maar so het die lewe met haar die draai gestap joernalistiek toe waarna sy haar in kommunikasie bevind het, eers by die Departement Sport, Kuns en Kultuur en daarvandaan, Maatskaplike Ontwikkeling.

Sy vertel dat, in haar studentedae as groentjiejoernalis, sy telkens oorweldig was deur “groot name”.

“Die onvergeetlikste oomblik vir my was op ‘n dag by oudpresident Nelson Mandela se ampswoning.

“Hy het op die stoep uitgestap om met skoolkinders te lag en gesels.”

Sy het in haar studentejare baie foto’s van die staatsman geneem, en vertel hoe sy jare later “per ongeluk” in sy konvooi in Polokwane beland het.

Na die funksie was sy maar al te dankbaar vir die vliegtuig se motore wat aangeskakel was, sodat die geraas haar onvermoë, spruitend uit oorgretigheid om ‘n duidelike sin te opper, kon uitdoof.

Sy vertel ook van ‘n groot oomblik langs voormalige Springbokrugbyafrigter, Peter de Villiers.

“Ek het Peter de Villiers gesit tydens ‘n Superrugby-opwarmingswedstryd. Ek was baie lus om hom te help met sy spankeuses,” skerts sy.

Sy geniet die lewe hier, buite die geruis van die groot stede.

“Ek hou van die mense en die plattelandse atmosfeer. ‘n Mens kan nie twee treë in ‘n inkopiesentrum gee sonder om stil te staan en met iemand te gesels nie,” verklap sy hoe lief sy vir babbel en gesels is.

“Polokwane is perfek. Ek wens net ek kon Gauteng se wye keuse van vermaak en die baie lae misdaadsyfer van Ysland hier gehad het.”

Dié bedrywige vrou is ook eggenoot en ma van twee seuns.

“My balans kom soms eers na ‘n tranerige episode van stoom afblaas, want ek is immers ‘n vrou,” sê sy, dankbaar vir haar man, Jaco, en familie, vriende en kollegas wat haar ondersteun.

Haar vrye tyd bring sy verkieslik saam met vriende deur, haal in op 7deLaan-episodes of laai haar MP3-speler “obsessief” met musiek wat sy waardeer.

Oor haar werk is sy beslis: “Ek is effe van ‘n perfeksionis en sal eerder iets self doen as aangee vir iemand anders. Na al die jare sukkel ek nog steeds om te kalmeer en dinge te aanvaar wat ek nie kan verander nie”.

Sy droom van eendag haar eie onderneming begin, en besef dan teen daardie tyd haar twee seuns reeds jongmans sal wees, reeds uit die huis uit.

“Ek sal niks van my lewe wil verander nie. In retrospek sien ek dat dinge met ‘n doel gebeur en dat God se tyd en wil vir ons lewens perfek is.”

Woorde wat waar val, so uit die mond van ‘n selferkende warrelwindwoordvoerder…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button