Bosveld NewsLocal NewsNews

74-jarige ry duisende km’s plat vir gesondheidbewustheid

Lees meer oor Jakkie van der Colff wat die toer vir die derde keer aanpak.

MOKOPANE – “As die fietsrygogga jou eers gebyt het los hy jou nie maklik nie. Fietsry is bevrydend en terapeuties vir liggaam en gees.” So gesels die 74-jarige Jakkie van der Colff wat vir ‘n derde agtereenvolgende jaar ‘n fietstoer aanpak. Die doel van die Suiderkruis fietstoer is om die organisasie, Gryskrag en hul werksaamhede bekend te stel en ‘n boodskap van “wees fiks en leef” uit te dra.

Die langtrap het Maandag op die plaas Oewervlakte wat sowat 50 km wes van Beitbrug in Limpopo afgeskop waarna Van der Colff na Kaap Agulhas gaan ry. Vandaar ry hy per voertuig na Kosbibaai waar hy die tweede been van die toer gaan aandurf wat in Alexanderbaai eindig. Hy beplan om meer as 4000 km plat te trap.

Waarom pak die 74-jarige man hierdie toer vir die derde keer aan? In 2012 het van der Colff voor ‘n kruispad gestaan wat sy liggaamlike en geestelike gesondheid betref. Hy vertel dat hy ‘n keuse gehad het of hy moes iets daaraan moet doen of hy kon verder in depressie val en hom oorgee aan hoë bloeddruk.

Hy het toe sy eerste uitdaging aangepak om in minder ure as wat hy jare oud is met sy trapfiets van Pretoria na Kaapstad te ry. In Oktober 2013 het hy oor ‘n tyd van dertien dae gemiddeld 111 km per dag gery om die afstand te voltooi in minder as 63 ure.

Hy het in 2014 die tweede toer aangepak waarin hy so na as moontlik aan die kus en landsgrense reg om die land gery het. Hy het ‘n afstand van meer as 5 400 km man alleen sonder logistieke ondersteuning afgelê. Van der Colff sê: “Dit was net ek, my fiets, my bagasie, my gedagtes en die lang pad.’n Ondervinding wat goud en geld nie kan koop nie.”

Hy het Maandag die Suiderkruisfietstoer op ‘n hoë noot begin. “Elke mens se eie gryskrag, dis nou daardie denkvermoë en geheue, verminder soos wat die jare aanstap. Gelukkig is daar ‘n organisasie soos Gryskrag wat sy lede help en bystaan om steeds ‘n deelnemende, verantwoordelike en aktiewe lid van die gemeenskap te wees al bekruip die jare ‘n mens. Gesondheid en om gesond te leef, is een van die belangrike dinge wat Gryskrag sterk propageer en daarom wil ek die organisasie deur middel van die toer aan meer mense bekendstel.”

Lesers kan die Facebookblad Suiderkruis Fietstoer volg vir meer inligting en vir die gene wat meer wil uitvind oor die Gryskrag organisasie kan hul die webtuiste by www.gryskrag.co.za besoek.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button