PHS-leerder, AJ Korff oorlede

Die soektog na die 15-jarige graad 10-leerder van Hoërskool Pietersburg (PHS), AJ Korff het gister (Donderdag) tragies geëindig toe sy lyk agter sy ouerhuis op die Myngenoegen-kleinhoewes gevind is. ‘n Vuurwapen is op die toneel gevind. Volgens inligting was AJ se ouers in Pretoria en sy ma het omstreeks 12:00 vir die laaste keer op …

Die soektog na die 15-jarige graad 10-leerder van Hoërskool Pietersburg (PHS), AJ Korff het gister (Donderdag) tragies geëindig toe sy lyk agter sy ouerhuis op die Myngenoegen-kleinhoewes gevind is. ‘n Vuurwapen is op die toneel gevind.
Volgens inligting was AJ se ouers in Pretoria en sy ma het omstreeks 12:00 vir die laaste keer op die selfoontoepassing WhatsApp met hom gepraat het.
AJ het die vorige aand by sy oupa se huis oorgeslaap en is gister (Donderdag) huis toe om vir ‘n kerkkamp gereed te maak. Nadat sy ouers hom nie in die hande kon kry nie, het AJ se ma sy oupa is gevra om na hom te gaan soek. Nadat die oupa die huis leeg gevind het en nie vir AJ kon opspoor nie, het hy die polisie se hulp ingeroep.
‘n Soektog is van stapel gestuur en AJ se liggaam is laatmiddag agter die huis gevind.
AJ was een van die seuns wat die skool se gelukbringer, Pietie wat leerders en toeskouers by sportgeleenthede vermaak het, se skoene soms volgestaan het. Hy was ook die stigter van Pietie se sosiale netwerk, facebook-blad.
“Hy was ‘n stil en rustige leerder wat altyd vriendelik en behulpsaam was. Ek het baie saam met hom gewerk en hy was ‘n aangename seun,” sê PHS-skakelbeampte, Anna-Marié Schoeman.
Skoolhoof, Willie Schoeman het sy medelye teenoor die familie uitgespreek en AJ as ‘n leerder wat groot respek vir onderwysers en ouer mense in die algemeen gehad het, beskryf.
“Jou sitplek in graad 10B is leeg. Jou stem is stil en PHS sal jou mis. Ons bid sy ouers, familie en vriende baie sterkte toe. God sal julle deur hierdie tyd dra,” het Schoeman gesê.
Polokwane polisie se kommunikasiehoof, Ntobeng Phala het die voorval bevestig en gesê ‘n geregtelike doodsondersoekdossier is geopen.
“Ons kan ook bevestig dat ‘n rewolwer naby sy liggaam gevind is,” het Phala gesê.

Hoof Foto: AJ Korff

RC Myburgh 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version