Local NewsNews

Polisie in Westenburg vat oortreders vas

Die Westenburg polisie het ‘n besige Paasnaweek agter die rug met Operasie Fiela wat van Donderdag tot Maandag plaasgevind het en waartydens verskeie mense gearresteer is. ‘n Vermeende inbreker is Donderdag­oggend na bewering deur ‘n huiseienaar in Nirvana doodgeskiet en prostitute het die mans en vrouens in blou glo op hul tone gehou. “Volgens inligting …

Die Westenburg polisie het ‘n besige Paasnaweek agter die rug met Operasie Fiela wat van Donderdag tot Maandag plaasgevind het en waartydens verskeie mense gearresteer is.
‘n Vermeende inbreker is Donderdag­oggend na bewering deur ‘n huiseienaar in Nirvana doodgeskiet en prostitute het die mans en vrouens in blou glo op hul tone gehou.
“Volgens inligting het ‘n huiseienaar ondersoek ingestel nadat hy van geluide in sy huis wakker geword het en hom teen twee inbrekers vasgeloop. ‘n Bakleiery het vermoedelik uitgebreek en die huiseie­naar het drie skote met sy handwapen afgevuur waarna die twee op die vlug geslaan het. Een van hulle is egter raakgeskiet en het in die tuin aan sy wonde beswyk,” sê Westenburg polisiewoord­voerder, Mohlaka Mashiane.
Hy sê die tweede verdagte is steeds op vrye voet en ‘n saak van moord word ondersoek.
Twee bestuurders is vir dronkbestuur, 11 vir oortreding van vervoerwette, vyf vir onwettige dobbelary en ses wat in die openbaar onder die invloed van alkohol was, aangekeer. Die polisie het ook op vier onwettige sjebeens toegeslaan wat hulle summier gesluit het.
“’n Saak van verkragting is ook gedurende die naweek deur ‘n vrou aanhangig gemaak wat beweer het sy is in Ladanna deur ‘n man gekonfronteer, by nabygeleë bosse ingesleep en verkrag.
“Ons het dadelik die saak ondersoek en vasgestel dat die vrou waarskynlik ‘n prostituut is wat haar dienste vir die man aangebied het.
“Hy het glo nie vir die diens betaal nie en die vrou het vermoedelik uit wraak ‘n saak van verkragting geopen,” sê Mashiane.
In ‘n tweede voorval het ‘n vermeende prostituut van Ladanna ‘n kliënt se motorsleutels afgeneem nadat hy nie wou betaal nie.
“’n Man het ‘n saak van motorkaping aangemeld en beweer hy is deur twee mans gekonfronteer wat sy voertuig gesteel het. Dié man was egter blykbaar saam met ‘n prostituut in die motor waarna sy die sleutels gegryp en weggehardloop het omdat hy nie wou betaal nie. ‘n Saak van meineed is teen die man geopen,” sê Mashiane.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button