Tien jongmense verdrink binne twee weke in Limpopo

Nadat drie kinders en ‘n jong man die naweek in Limpopo verdrink het, het die polisie opnuut ‘n ernstige beroep op ouers gedoen om nie toe te laat dat hul kinders sonder toesig in damme of riviere swem nie. In die jongste voorvalle oor die naweek het twee kinders en ‘n jong man in Mankweng …

Nadat drie kinders en ‘n jong man die naweek in Limpopo verdrink het, het die polisie opnuut ‘n ernstige beroep op ouers gedoen om nie toe te laat dat hul kinders sonder toesig in damme of riviere swem nie.
In die jongste voorvalle oor die naweek het twee kinders en ‘n jong man in Mankweng en nog ‘n kind in Letsitele verdrink.
“Met die onlangse reën is daar verskeie plekke waar water opdam en diep poele vorm terwyl bestaande damme voller is en riviere sterker as gewoonlik vloei. Dit bly steeds met tye baie warm en kinders gaan soek lafenis teen die hoë temperature in die water, maar beland dan in die moeilikheid. Ons kan nie genoeg klem daarop lê dat ouers hul kinders teen die gevare moet waarsku en hulle verbied om te swem indien daar nie toesig is nie,” sê provinsiale polisiewoordvoerder, Ronel Otto.
Mankweng polisiewoordvoerder, Mosima Mokgaba sê die polisie het drie geregtelike doodsondersoekdossiere geopen nadat die 11-jarige Tumisho Molepo, negejarige Jonas Modimele en die jong man Saterdag in Ga-Molepo verdrink het.
“Die twee seuns was saam met drie ander by ‘n dam in die Makzeng-nedersetting toe hulle verdrink het. Beide lyke is reeds uitgeken. Die derde dossier is geopen nadat ‘n 23-jarige man by Ga-Rampheri in ‘n dam verdrink het. Sy lyk is Sondag deur verbygangers gevind,” sê Mokgaba. Die man is uitgeken, maar sy kon teen druktyd nog nie sy naam verskaf nie.
Intussen het die negejarige Remember Mkhari van Xihoko-nedersetting buite Letsitele Sondag in die Masekanerivier verdrink.
“Die seun het geswem toe hy volgens berig skielik deur ‘n sterk waterstroom meegesleur is. Lede van die gemeenskap is in kennis gestel en was vinnig op die toneel om hom na ‘n nabygeleë kliniek te neem, maar hy is by die kliniek dood verklaar,” sê Tzaneen polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe.
Die voorvalle kom nadat ‘n 25-jarige man in Giyani, drie tienerseuns in Tubatse en twee skoolmeisies in Lebowakgomo die afgelope twee weke verdrink het.

Story: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version