18-jarige sterk tuis aan ná Nagadder haar pik

'n Oud-leerder van Hoërskool Piet Potgieter sterk tans tuis aan nadat sy verlede Woensdagaand deur 'n Nagadder voor haar ouerhuis op hulle kleinhoewe buite Mokopane gepik is.

MOKOPANE – Elvira van den Heever (18) is na die Netcare Hospitaal in Polokwane deur Special Operation Solutions Medical gehaas nadat die slang van nagenoeg 16 cm haar op haar regter voet gepik het.

Elvira se pa, Loggie vertel hulle het so net na half sewe by die huis stil gehou en Elvira het na die voordeur geloop toe sy vermoedelik op die slang se stert getrap het en hy toe terug kap. Loggie sê Elvira het sandale aan gehad en dus het die slang ‘n behoorlike pik ingekry.

“Ons het vreeslik groot geskrik en dit was duidelik sy is in baie pyn.” SOS Medical het haar na die hospitaal gehaas, waar sy in die waakeenheid opgeneem is.

Loggie vertel hulle het die slang saam geneem hospitaal toe, sodat die dokters dit kan identifiseer en, indien nodig, die gepaste teengif gee omrede die verkeerde teengif dodelik kan wees. Loggie bedank die Percy Fyfe gemeenskap en in besonder Special Operation Solutions Medical vir hulle flink optrede.

Volgens Pieter Swanepoel, ‘n slangkenner van Mokopane, veroorsaak die slang se gif aansienlik pyn, maar is dit nie dodelik vir die mens nie. Hoewel die simptome meer ernstig is by babas en kinders onder die ouderdom van 10 jaar. Die sitotoksiese gif veroorsaak pyn, swelling en minimale nekrose, maar die simptome verdwyn gewoonlik na twee tot drie dae, maar verskil van byt tot byt. Swanepoel raai lesers aan om in die geval van ‘n slangbyt die slang te identifiseer of om die slang saam te neem na die hospitaal, sodat die regte behandeling toegepas kan word. “Daar is geen teengif vir ‘n nagadder nie en slegs die simptome moet behandel word,” sê Swanepoel.

Swanepoel sê ‘n slang pik en dan byt hy, want hy sink sy tande in jou om die gif af te skei, dus praat jy van ‘n slangbyt. Lesers is welkom om Swanepoel te kontak by 082 336 6200 om meer kennis in te win of om ‘n slang by die huis te kom vang.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version