Local NewsNews

Verdagte in Oelofse-moord vas

‘n Man wat verlede Dinsdag in Musina op aanklag van besit van gesteelde selfone en rekenaartablette gearres-teer is, is intussen met die aanval en moord op Johan Oelofse op sy kleinhoewe buite Louis Trichardt in Oktober verlede jaar verbind. Maxwell Sithole word voorts van ander voorvalle van gewapende roof, huisbraak en saakbeskadiging in Louis Trichardt, …

‘n Man wat verlede Dinsdag in Musina op aanklag van besit van gesteelde selfone en rekenaartablette gearres-teer is, is intussen met die aanval en moord op Johan Oelofse op sy kleinhoewe buite Louis Trichardt in Oktober verlede jaar verbind.
Maxwell Sithole word voorts van ander voorvalle van gewapende roof, huisbraak en saakbeskadiging in Louis Trichardt, Waterval en Tswilwa-vhusiku verbind.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Ronel Otto sê Sithole is die tweede verdagte wat in verband met Oelofse se skietdood vasgetrek word.
“’n Gesteelde pistool waarvan die reeksnommer afgevyl is en waarmee Sithole vermoedelik sy misdrywe gepleeg het, is in ‘n puttoilet naby die plek waar hy gearresteer is, gevind. Hy het reeds Vrydag in die Makhado Landdroshof verskyn en sou na verwagting deur die loop van vandeesweek weer verskyn het,” sê Otto.
Hy is steeds in aanhouding en Otto kon teen druktyd nie bevestig hoe die saak teen die eerste ver-dagte wat op dieselfde aand van die aanval vasgetrek is, vorder nie.
Oelofse, sy vriendin, Miempie du Toit en haar twee kinders, Inge en Wimpie is op die aand van 25 Oktober aangeval.
‘n Onbekende aantal verdagtes het omstreeks 21:30 op die huis losgebrand. Die eerste koeël is deur Inge se kamervenster waarna nog 19 vensters stukkend geskiet is.
Die vier huismense het in die gang skuiling gesoek om van die venters af weg te bly. Oelofse het intussen sy pistool en selfoon gekry en ‘n vriend geskakel terwyl hy by vensters uitgeskiet het in ‘n poging om te verhoed dat die aanvallers by die huis inkom.
Hy is in die proses in die kop geskiet.
Du Toit het destyds gesê sy weet nie wat die motief vir die aanval was nie, want die aanvallers het die huis omsingel en losgebrand.
Otto het ten tye van die aanval gesê een van die verdagtes is gearresteer nadat die polisie en buurtwaglede die spoor gevolg en hulle onder ‘n brug betrap is.
“Hulle (die verdagtes) het op hul agtervolgers losgebrand en daar is teruggeskiet. Een van die verdagtes is gewond en gearresteer.”

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button