Barry Bolink ‘n mens wat ‘altyd hard gewerk het’

Barry Bolink is 'n bekende naam in die stad se besigheidskringe as geoktrooieerde rekenmeester en vennoot by Diemont, Zimmerman & Bolink (DZB)

POLOKWANE – Barry Bolink is ‘n bekende naam in die stad se besigheidskringe as geoktrooieerde rekenmeester en vennoot by Diemont, Zimmerman & Bolink (DZB)

Geoktrooieerde Rekenmeesters in Polokwane.

Barry se ouers was sendelinge wat baie rondgereis het. Hy het sy hoërskoolloopbaan by Hoërskool Pietersburg in 1976 voltooi.

Na skool is hy vir ‘n jaar oorsee en daarna het hy by die Universiteit van Pretoria (Tukkies) B.com LLB studeer. Na sy studies het hy by Boland Bank, wat in die vroeë 90’s Nedbank geword het, gaan werk en dit is daar waar hy besluit het om as geoktrooieerde rekenmeester te kwalifiseer. Hy het sy klerkskap by KPMG voltooi.

Barry is verlede week na ‘n lang stryd teen melanoom- kanker oorlede. Sy vennoot, Tella Diemont, vertel dat Barry een van die mense was wat die hardste kon werk.

“Ek het my besigheid in 1995 begin en in 1998 het Barry as vennoot by my aangesluit. Later het Kallie Zimmerman ook as vennoot by ons aangesluit. Barry was ‘n mens wat almal altyd tegemoet gekom het, hy het nie geskroom om mense te help waar hy kon nie. Hy het baie swaar gekry, veral in die laaste tyd. Ek onthou hy was ‘n fomidabele muurbalspeler. Hy los definitief ‘n groot leemte in die gemeenskap en ons sal hom vreeslik mis,” sê Diemont.

Barry is in 2011 met melanoomkanker gediagnoseer en het einde Februarie 2014 uitgetree. Hy was op 18 Desember by Mediclinic Limpopo opgeneem waar hy op 7 Januarie oorlede is.

Barry word oorleef deur sy twee kinders, Bertjan en Desiree, asook vier susters en twee broers.

Sy roudiens word Saterdag, 16 Januarie om 11:00 vanuit die N.G. Kerk Bendor gehou.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version